GEORGE NUUS - Skelms wat kragkabels buit hou deesdae partytjie in Rosedale-plakkerskamp. Sodra 'n inwoner hulle plakkershut verlaat om na 'n woning in die Erf 325- behuisingsontwikkeling te trek, word die kragdrade in die plakkerskamp geknip en verkoop. Die voorvalle het blykbaar oor die laaste twee weke skerp toegeneem.
"Deesdae is dit nie eens meer net die ouens wat trek waar die stelery plaasvind nie, 'n oompie wat glad nie trek nie sit nog in sy hut die annerdag, toe knip iemand helder oordag sy kragdraad af," het Charly Daman, 'n gemeenskapsleier, gesê.
"Die ergste is, ons weet wie dit is. Ons het hulp nodig om die skelms vas te trek."
Volgens Daman word die kabels verkoop teen R100 per kilogram. Kansvatters gebruik die geleentheid om die kragdrade te knip en te buit wanneer hulle sien inwoners verhuis. "Dit neem dan dae vir die krag om herstel te word," het Daman gesê.
Direkteur van elektrotegniese dienste, Bongani Mandla, het gesê die probleem ontstaan wanneer inwoners van die informele nedersetting oornag na hul nuwe huise trek sonder om die direktoraat van hul voornemens in kennis te stel. Die kabels en voorafbetaalde kragmeter word dus onbewaak agtergelaat.
"Ongelukkig bied dit 'n geleentheid vir diewe," het hy gesê. "Elektrotegniese dienste het alle kabels wat geknip is verwyder en sal met die direktoraat vir menslike nedersettings skakel om hierdie uitdaging te probeer oplos.
"Wanneer kabels in die omgewing gesteel of beskadig word, veroorsaak dit 'n groot ongerief vir al die inwoners."
Kontak munisipaliteit
Inwoners van die informele gebied word versoek om die munisipaliteit in kennis stel wanneer hulle trek en om onbewoonde informele behuising aan te meld by 044 802 2026/2003 (kantoorure) en 044 801 6300 (na-ure).
Meld kabeldiefstal, onwettige verbindings en of enige verdagte aktiwiteite aan by 044 803 9222/9202 (kantoorure) en 044 801 6300 (na-ure).
'n Geknipte kragkabel in Rosedale-plakkerskamp.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'