Update
OUDTSHOORN NUUS - Die borgtogaansoek van die vier mans wat in verband met die transitorooftog by die Bridgton-vulstasie in hegtenis geneem is, is Dinsdag en Woensdag in die Oudtshoorn-landdroshof hervat.
Simphiwe Matwa, Masixole Dolombo en Lwandiso Lento is op 19 Julie, kort na die roof, in hegtenis geneem.
Sakhele Nkabi, 'n kaptein verbonde aan die Oudtshoorn Infanterieskool is op 23 Julie in hegtenis geneem.
Nkabi, Dolomba en Matwa word deur adv. Zukile Mqulo verteenwoordig terwyl Bulelani Bans vir Lento verteenwoordig. MP Heyns tree vir die staat op.
Soos verlede week het die hof Dinsdag weer laat begin as gevolg van Mqulo wat nie opgedaag het nie. Om ongeveer 12:30 het Siyabonaga Lolwana by die hof opgedaag om vir Mqulo in te staan. Volgens hom was Mqulo in die Oos-Kaap en kon hy dit nie betyds terug maak nie.
LEES MEER: Borgtogaansoek op 17 Augustus voort
Bans het met aanvang van die hofverrigtinge egter sy kliënt se ongelukkigheid hieroor duidelik gemaak.
Kapt. Sakhele Nkabi
Volgens Bans is dit die tweede keer wat Mqulo die hofverrigtinge vertraag deur laat te kom en het ook nie 'n verskoning aangebied vir die feit dat hy laat gaan wees nie.
"Nie net hou dit implikasies oor die duur van die aansoek in nie, maar het dit ook finansiële implikasies vir my kliënt en sy familie. Ons is nie tevrede met die tipe gedrag nie."
Hy het verder voortgegaan deur sy argumente vir die borgtogaansoek aan die hof te bring.
Volgens hom moet die hof borgtog aan Lento toestaan.
LEES MEER: Transitoroof: Borgtogaansoek begin
Bans het gesê dat die staat geen bewyse het dat Lento by die misdrywe betrokke was of dat hy op enige wyse by die staat se saak sal inmeng of vlug nie.
"Hy het sterk familie- en vriendskapsbande in George en Oudtshoorn en het 'n suksesvolle besigheid wat op stabiliteit dui. Hy sal ook nooit sy kinders los nie."
Simphiwe Matwa
Bans het die hof gevra om in ag te neem dat Lento onskuldig is tot hy skuldig bevind word en dat hierdie 'n borgtogaansoek is, en nie 'n verhoor nie.
Heyns het in sy argumente gesê dat die staat wel 'n baie sterk saak teen al vier die verdagtes het.
"Daar is 'n ooggetuie wat gesien het hoe hulle die roof pleeg en ook van voertuie verander.
Wat het die drie van hulle saam in die voertuig gemaak toe hulle in hegtenis geneem is? En wat het hulle met die kaptein se uniform en selfoon in die voertuig gedoen?"
Volgens Heyns het hulle 'n sekerheidswag met 'n vuurwapen geroof en weggery.
"Mense wat die tipe misdrywe pleeg is nie beginners nie, en het in alle waarskynlikheid voorheen sulke misdrywe gepleeg.
LEES MEER: Beweerde transitorowers voor vir borgtogaansoek
Hulle is baie gevaarlike mense. Die tipe mense is ook in staat om self of deur middel van ander mense met staatsgetuies en -bewyse in te meng."
Die staat sal ook tydens die verhoor selfoonrekords beskikbaarstel om te bewys hoe almal betrokke is.
Die hof het, volgens Heyns, ook geen bewyse dat hulle nie voor die vonnis sal weghardloop nie.
Heyns sê die staat kan van die verdagtes met die roof in Thembalethu, wat September verlede jaar gebeur het, verbind. Lento se voertuig is tydens die Thembalethu-roof gebruik en Matwa, wat daardie tyd vir Fidelity gewerk het, het kort na dié roof nie vir werk opgedaag nie en het tydens die tugverhoor "basies skuldig gepleit".
Masixole Dolombo
Heyns het Woensdag met die staat se argumente voortgegaan. Volgens hom moet die hof die sterkte van die staat se saak in ag neem.
Hy het verder gesê dat hy uit ervaring kan sê dat mense wat sulke gevaarlike misdrywe in groepe pleeg en op borgtog vrygelaat word, die gewoonte het om verrigtinge te vertraag deur nie almal vir die hof op te daag nie.
“Hulle is gevaarlike mense en is nie bang om risiko’s te loop nie.”
Landdros Marvin de Vos het die staat gevra of hulle ook ‘n sterk saak teen Nkabi het.
Volgens Heyns is sy uniform en selfoon die dag van die roof in die Sentra waarmee die ander drie verdagtes weggery het gevind.
“Wat sal dit daar maak as hy nie betrokke was nie?”
Nkabi het ook, volgens die staat, die Tazz waarmee hulle tot by die vulstasie gery het, self na die roof by ‘n ander huis in Oudtshoorn weggesteek en ook persoonlik die reëlings daarvoor getref.
Volgens Steyn wag hulle nog vir die DNS-bewyse en selfoonrekords om sterker bewyse te hê dat al vier die verdagtes wel by die roof betrokke was.
De Vos het gesê dat die borgtogaansoek reeds ‘n geruime tyd aan die gang is en dat hy tyd nodig het om die inligting wat hy ontvang het deeglik deur te werk.
Hy het die saak tot Maandag 23 Augustus uitgestel vir die uitspraak.
Lwandiso Lento
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'