Gallery
GEORGE NUUS - Rina de Swardt het al sinoniem geword met die ACVV George. Dis te verstane want die afgelope 26 jaar was sy voorsitter van die bekende welsyninstansie in George.
Sy het egter nou die tuig neergelê omdat sy glo dis tyd om die stokkie aan iemand anders te oorhandig.
Verlede Vrydag, 21 Oktober, is op gepaste wyse van haar afskeid geneem en totsiens gesê by La Rosa Blu Café by die Rosenhof-roosplaas. Die geleentheid is deur kollegas en vriende bygewoon.
Daar was trane van hartseer, want Rina het oor die jare diep spore getrap en haar stempel afgedruk. Daar was egter darem ook vertroosting want haar kundigheid is nie verlore. Sy gaan in die toekoms steeds as vrywilliger help waar nodig.
Die Afrikaanse Christelike Vroue Vereniging (ACVV) is reeds in 1904 gestig en in 1917 is die George-tak gestig. Dit word beskryf as 'n toegewysde kinderbeskermingsorganisasie. Dit funksioneer nasionaal.
As daar iemand is wat die organisasie van hoek tot kant ken is dit sy. Reeds in Mei 1985 het sy as vrywilliger betrokke geraak. In Oktober 1995 is sy op die bestuur verkies en in Mei 1996 het sy voorsitter geword. Sedert 2012 was sy op die nasionale bestuur.
Al die bestuurslede is vrywilligers. Sy het 'n lang pad geloop voordat sy in George beland het. Rina het grootgeword in Marchand in die Noord-Kaap. Dit is tussen Augrabies en Kakamas. Dit is hier waar die saadjie geplant is om haar medemens te help.
Haar ouers was, vandat sy kan onthou, betrokke by minderbevoorregtes en het hulp verleen waar hulle kon.
Na skool het sy onderwys gaan studeer en later gaan skool gee op Beaufort-Wes. Daar het haar pad gekruis met Flip de Swardt. Hulle is in 1966 getroud en het hulle in George kom vestig.
De Swardt was op sy dag burgemeester van George, maar Rina was 'n persoon in eie reg.
Oor die jare het sy as voorsitter die ACVV in George uitgebou. Sy was aan die stuur van sake toe die vereniging in 1997 die 80ste, in 2007 die 90ste en in 2017 hul 100ste bestaansjaar gevier het.
Sy weet wat die uitdagings behels waarvoor welsynsorganisasies daagliks te staan kom. Die organisasie het 55 personeellede, waarvan 17 in die maatskaplike afdeling werk.
"Maatskaplike werkers het 'n uiters moeilike en emosie belaaide werk, veral in die huidige situasie in ons land met armoede, werkloosheid en kinderverwaarlosing."
Natuurlik was daar verskeie hoogtepunte en een wat sy uitsonder is die gesonde finansiële situasie wat gevestig is. Dit kon hulle in staat stel om die lenings op al hul eiendomme af te los. Verskeie kleuterskole is ook gevestig. Ongelukkig moes van hulle gesluit word as gevolg van plundering wat tydens die Covid-19-inperking plaasgevind het.
Flip Swardt, Liezel Muller, Riana Lategan Christa Jooste, Rina de Swardt en Louis Fourie. Foto's: Eugene Gunning
Sy het altyd 'n passie vir haar taak gehad en benadruk dit dat jy as 'n vrywilliger 'n passie moet hê, aangesien jy geen vergoeding ontvang nie.
Rina gaan die werk mis en het goeie herinneringe wat sy saamneem. Dit was veral aangenaam vir haar om saam met ander mense iets te kon doen en dan sien as dit goed uitwerk.
Ilse Schoonraad, groepsredakteur van Group Editors het die afskeidsfunksie by La Rosa Blu Café bygewoon. Sy beskryf dit as hartroerend. "Daar was nie 'n droë oog nie. Rina se kollegas het dié wonderlike vrou met die mooiste woorde geloof - iedere een daar. Rina het George se inwoners en kinders onbaatsugtig vir byna drie dekades gedien en die ACVV sal haar geweldig mis. Gelukkig gaan sy nie uit George weg nie, en sal sy steeds haar kennis, ervaring en liefde met Georgiete bly deel."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'