GEORGE NUUS - Hulde is gebring aan een van George se bekendste oudinwoners, kol. Hilda (Botha) Burnett wat verlede week op 2 Februarie oorlede is.
Sy is net twee dae na haar 92ste verjaarsdag op die Zevenwacht-landgoed in Kuilsrivier in haar slaap oorlede.
Burnett het diep spore getrap op verskeie lewens-terreine en was onder meer in die 70's die bevelvoerder van die Burgerlike Beskermingskollege wat later die SA Vroueleërkollege geword het.
Sy was in 1956 lid van die Springbok-vrouehokkiespan wat die wêreldbeker in Australië gewen het. Later was sy ook 'n lid van die George-stadsraad.
Chris Botha, haar oudste seun, het Maandag gesê sy ma was net 15 toe sy matriek geslaag het en 18 jaar toe sy haar onderwysdiploma behaal het. Volgens hom was sy mal oor sport. Tot voor haar dood was sy helder van verstand en het tot onlangs nog brug gespeel. Sy het ook baie gelees.
Kol. Hilda Botha
Sy het tot 2018 elke jaar na die Universiteit van Kaapstad se somerskool gegaan. Voorts was sy dikwels by simfonie- en toneelopvoerings.
"My pa was Jan (Johannes Francois) Botha en hy is dood in 1970, toe my ma 40 was. Hulle het in die laat 60's die Lentelope begin, om mense meer gesondheidsbewus te maak. Dit was hulle brainchild. Beide was sportsterre. My pa was met sy dood die sekretaris (deesdae die direkteur-generaal) van die department van sport en ontspanning."
Sy pa het op sy dag uitgedraf vir die rugbyspanne van Noord-Transvaal en die WP.
In Desember 1978 is sy met Rex Burnett getroud. Burnett was later betrokke by die stigting van die Demokratiese Party en die eerste voorsitter in die Suidwes-Kaap. In 1989 was sy die party se kandidaat vir George.
Kol. Hilda Botha
In 1990 het sy as deel van 'n Idasa-afvaardiging die ANC in Lusaka besoek, waar sy onder meer wyle Chris Hani en Thabo Mbeki ontmoet het.
Botha het sy ma beskryf as 'n familiemens en iemand met baie wysheid.
Renie Coetzee wat deel was van die eerste groep dames by die Burgerlike Beskermingskollege in 1971 het haar daar leer ken. Sy was toe tweede in bevel en het later bevelvoerder geword.
Hulle het mekaar oor die jare by geleenthede raakgeloop. Sy en van die ander dames het ook tot onlangs nog by haar gaan kuier. "Ons sal die kuiers by haar mis."
Volgens haar was sy 'n moederlike mens. "Baie van ons het haar ervaar as ons militêre-ma. Sy het 'n ongelooflike geheue gehad. Vir my was sy die vrou in uniform waarna ek opgesien het."
Burnett word privaat veras en 'n lewensviering-geleentheid word vir 19 Februarie beplan. Dit sal lewend gestroom word. Sy word oorleef deur drie seuns Chris, Jean-Pierre en Rolf en vyf kleinkinders.
In 1990 tydens 'n besoek aan die ANC in Lusaka. Hier is sy saam met wyle Chris Hani en Thabo Mbeki.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'