GEORGE NUUS - Hoe is dit moontlik dat 'n watertenk, wat byna dakhoogte staan, sommer net kan verdwyn? Dit is die vraag wat gevra word nadat die nuwe watertenk by die tolhuis waarskynlik gesteel is.
Dit lyk of booswigte Saterdag die watertenk van die tolhuis aan die begin van die Montagupas weggedra het.
Die tolhuis is een van George se geskiedkundige geboue en is meer as 170 jaar oud. Dit is in 1845 gebou en in 1971 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
Die laaste paar jaar is dit weer gerestoureer danksy pogings van Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis. Dit is egter erg beskadig tydens die brande in Oktober verlede jaar.
Stols het aan die George Herald gesê die tolhuis het in Julie vanjaar 'n nuwe watertenk ontvang wat deur Buffalo Tanks geskenk is.
Die vorige tenk is op 29 Oktober verlede jaar grotendeels deur die brande verwoes. Die oue kon nog 'n bietjie water huisves wat gebruik is vir die toilette.
In Julie vanjaar het 'n groep Voortrekkers by die tolhuis gekamp en die nuwe watertenk met 'n kapasiteit van 5 000 liter is daarna begin gebruik. Dit is tussen R5 000 en R7 000 werd en het 'n grys-kakiekleur.
Die tolhuis sonder die watertenk.
Saterdagaand het 'n sekuriteitsmaatskappy haar laat weet alles is baie nat by die tolhuis. Sy het gaan ondersoek instel en het dit gelyk of die watertenk met 'n bakkie weggery is. 'n Duidelike waterspoor was in die pad sigbaar. Dit lyk of die verdwyning goed vooraf beplan is.
Die verdwyning van die watertenk is 'n groot verlies. "Vir ander mense is dit dalk iets gering, maar vir ons is dit 'n groot verlies."
Stols het gesê, wat amper 'n groter ramp is, is die verlies van die water gegewe die skaarste van water in die huidige tyd.
Dit kom op 'n moeilike tyd vir die tolhuis. Op die oomblik is hulle betrokke by die finale fase vir die heropbou van die tolhuis.
'n Saak is by die polisie aanhangig gemaak. Enigiemand wat oor inligting beskik kan haar bel by 083 772 8252 of 'n e-pos aan haar stuur by gerdastols@telkomsa.net.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'