GEORGE NUUS - Terugvoer van die George-toerismekantoor oor die afgelope Desember-seisoen was baie positief.
Volgens 'n verklaring van die George-munisipaliteit was daar 'n definitiewe toename in akkommodasiebesprekings, restaurant- en aktiwiteitsbesoeke, inkopies en verkeer.
Een plaaslike aktiwiteit het soveel as 6 200 besoekers op een dag gehad en 'n plaaslike restaurant het 1 000 gaste op een dag ontvang.
George-burgemeester Leon van Wyk het gesê informele gesprekke met restaurante en besighede het getoon dat daar ten minste 'n 30% groei was vergeleke met die 2021-seisoen.
Sekere besighede het rekordomsette en -besoekertalle getoon. Sommige het selfs voor-Covid-syfers verbeter.
Hy het gesê geleenthede soos George Tens, teaterproduksies, markte en konserte is goed bygewoon.
Die toerismekantore van George en Wilderness het 398 navrae aangeteken. Dit is minder as verlede jaar. "Maar as die toename in akkommodasiesyfers in ag geneem word, dui dit daarop dat akkommodasie- en aktiwiteitsbeplanning betyds gedoen is en nie soos verlede jaar op die nippertjie nie. Dit neem ons terug na meer normale tendense."
'n Groot groep ywerige roetedrawwers het op 1 Januarie in Herold in die Langkloof, net buite George, bymekaargekom vir die jaarlikse Red Men-wedloop. Die wedloop het bestaan uit 'n 18- en 'n 12 km-draf in die skouspelagtige Outeniquaberge.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'