Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die saak teen Magdaleen Titus en haar medebeskuldiges het Maandag amptelik in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn begin.
Die twee klagtes waarop Titus, 'n ANC-raadslid, en haar medepligtiges, Natasha Stuurman, Justice Mooi en Masimthembe (MJ) January, teregstaan is die van moord en die verberging van bewyse. Al vier beskuldigdes het onskuldig op die aanklagte teen hulle gepleit en het aangedui dat hulle van hul swygreg gebruik gaan maak.
Magdaleen se man, Preston Titus is in die nag van 1 Desember 2017 in sy slaapkamer in die weermagbasis op Oudtshoorn vermoor.
Dit was gister, Woensdag 27 Februarie, die derde dag van die moordverhoor. Die eerste getuie van die dag was die eerste polisiebeampte wat by die toneel opgedaag het. Volgens ao. Quinton May het hy en 'n kollega patrolliewerk in Kerkstraat gedoen toe 'n voertuig met twee persone hulle stop en sê dat daar moeilikheid in die weermagkamp was.
Volgens sy getuienis is hulle na die huis van Preston Titus waar hy op Preston se liggaam in sy kamer tussen twee enkelbeddens afgekom het. Volgens hom kon hy nog pepersproei in die kamer ruik.
Hy het ook getuig dat Magdaleen Titus (Maggie) op daardie stadium "histeries" was en inmekaargesak het waarna hy gesê het dat iemand haar moet dokter toe neem.
Paulton Jacobs, 'n vriend van die Titusse se oudste dogter het ook getuig.
Volgens hom het hy die dogter huis toe geneem na hulle by vriende se huis gekuier het.
Jacobs het getuig dat die dogter aan die deur geklop het en toe daar geen antwoord was nie, het sy haar pa gebel waarna hulle skielik haar ma (Maggie) in die huis hoor skree het.
"Ek het by die huis ingegaan omdat ek gedink het dit kan dalk inbrekers of 'n slag wees en dit is toe ek Preston se liggaam sien."
Kyk 'n video hieronder.
Majoor Fredrick Viljoen, verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weermag, het getuig dat hy en 'n kollega, kapt. Deon Bouwer, een van die ondersoekbeamptes gehelp het om items wat met die moord verband hou op die Mosselbaai-pad te gaan soek.
Volgens hom het hulle by een van die driffies naby die Kandelaarsrivier op twee messe, 'n hamer en bebloede klere afgekom. Hy het kapt. Bouwer gekontak en die polisie het die bewysstukke gaan haal.
Volgens die staatsaanklaer is Preston se bloed op een van die messe sowel as die hamer gevind.
Justice Mooi en Magdaleen Titus. Foto's: Liezl van Niekerk
Elvis Jansen, 'n taxibestuurder was die laaste getuie voor middagete. Hy het getuig dat hy 'n man, wat hy in die hof as verdagte een (Justice Mooi) uitgewys het en 'n onbekende Xhosa-persoon van Port Elizabeth na Oudtshoorn gebring het.
Die saak sou weer na middagete voortgaan.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'