GEORGE NUUS - In die George-bedieningsgebied (George, Conville, Thembalethu en Pacaltsdorp) is daar gemiddeld een polisiebeampte vir elke 377 mense. Uit die vier polisiestasies het Pacaltsdorp die minste polisielede tot inwoners met 'n ratio van 1:443. Die George Herald ontvang ook gereeld klagtes van inwoners wat sê dat daar oor naweke slegs een voertuig vir Pacaltsdorp beskikbaar is.
Conville is tweede met 1:415, gevolg deur Thembalethu met een polisiebeampte vir elke 414 mense en laastens George-polisiestasie met een beampte vir elke 234 mense.
Uit die Suid-Kaap blyk dit dat Groot-Brakrivier-polisiestasie die swaarste kry met een beampte vir elke 566 inwoners wat bedien moet word. Die syfers is uitgelig in die Wes-Kaapse wetgewer deur die minister van gemeenskapsveiligheid, Dan Plato, in antwoord op 'n parlementêre vraag.
Byna 'n kwart (22,78%) van misdaad wat landwyd in 2016/17 gerapporteer is, het in die Wes-Kaap plaasgevind, sê Plato. "Dit is duidelik dat te veel mense in die provinsie nie die luuksheid van veiligheid het nie. Dit kan, ten spyte van die beste pogings van die provinsiale kommissaris, Khombinkosi Jula en sy span, grootliks aan onvoldoende polisiëringshulpbronne toegeskryf word. Daar is 'n direkte verband tussen die hoë misdaadsyfers en die gebrek aan polisiëring," het Plato in 'n onlangse persverklaring gesê.
"Histories het die Wes-Kaap ook onvoldoende hulpbrontoekennings met tot 85% van die polisiekantore wat hulpbronne benodig en 'n personeeltekort van bykans 3 000 polisielede." Volgens Plato het die aantal aktiewe polisiereserviste sedert 2008 ook met 66% gedaal (van 5 059 tot net 1 700) en tot oormaat van ramp het die polisie onlangs hul voornemens bekend gemaak dat die nasionale bestuur beplan om die polisie se getalle in die komende jare met 3 000 te sny.
Minister van gemeenskapsveiligheid, Dan Plato.
In die polisie se jaarlikse prestasieplan vir 2017/18 het dit aan die lig gekom dat die personeelgetalle vanaf 2014 tot 191 431 teen 2019/20 verminder sal word.
"Terwyl baie mense in die provinsie die voordeel van voldoende polisiëring, proaktiewe en doeltreffende gemeenskapsgebaseerde veiligheidstrukture geniet, is die realiteit dat té veel mense in die provinsie steeds weens geweld geraak word. Die Wes-Kaapse mense verdien 'n polisiediens wat hulle kan vertrou om hul pligte doeltreffend uit te voer," het Plato gesê.
Die plaaslike polisie is vir kommentaar genader, maar teen druktyd is niks ontvang nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'