GEORGE NUUS - Die gemoedere van munisipale werkers het weereens opgevlam oor hul posevaluerings.
Sowat 100 permanente werkers van die departement siviele en tegniese dienste het verlede Donderdag, in afwagting op uitslae na die evaluering van hul posvlakke, voor die departement in Yorkstraat betoog.
Verteenwoordigers van die munisipale vakbonde Samwu en Imatu het die groep gelei.
Verlede jaar in Mei het sowat 200 Samwu-lede die George-munisipale gebou in Yorkstraat beset in 'n poging om die owerheid tot aksie te dwing.
Die ongelukkigheid het destyds gespruit vanuit 'n raadsbesluit van 14 November 2012, waartydens 'n moratorium op die evaluering van posvlakke geplaas is.
Hierdie moratorium is op 27 Junie verlede jaar gelig, kort na die besetting van die munisipaliteit.
Evaluasies van posvlakke het intussen plaasgevind, en werkers het op 1 November terugvoer verwag.
Merlane Jackson en Congo Jonah wag vir antwoorde van die George-munisipaliteit tydens die betoging verlede week.
Dit het egter nie gebeur nie, waarna werkers weer verlede Donderdag betoog het.
Die Task-evalueringsisteem (Tuned Assessment of Skills and Knowledge) word gebruik om werkers en amptenare se posvlakke te bepaal.
Wanneer funksies en verantwoordelikhede by 'n werker se posbeskrywing gevoeg word, word dit in aanmerking geneem.
Die posvlak bepaal die werker se inkomste.
Klagtes van werkers sluit in die feit dat hulle vir vier jaar nie geëvalueer is nie, en dus nie dienooreenkomstig vergoed is nie. Sommige dring aan op terugwerkende betaling.
Samwu-voorsitter van die Tuinroete en Klein-Karoo, John Mcanjana, het tydens 'n vorige geleentheid gesê die meeste van die topamptenare is egter reeds geëvalueer en trek finansieel voordeel.
Munisipale bestuurder, Trevor Botha, het by navraag gesê die aangeleentheid is met beide vakbonde bespreek en dat hulle in die proses is om dit intern te hanteer.
"Die resultate van die evaluasies sal, sodra dit van die provinsiale-ouditkomitee ontvang word, aan die relevante personeel voorsien word en implementering sal dienooreen-komstig gedoen word," het Botha gesê.
Van links is Andrew Nortjé, Xolile Matshaule en William Gamana.
"Gereelde terugvoering oor die vordering sal aan beide vakbonde verskaf word."
Botha het benadruk dat die Task-posevaluering hanteer word volgens riglyne soos verskaf deur Salga (South African Local Government Agency).
"George-munisipaliteit wag tans vir 'n finale ouditverslag van provinsie, waarna dit aan die personeel gekommunikeer sal word," het hy gesê.
"Die poste word deur die streekevalueringskomitee geëvalueer en deur die provinsiale-ouditkomitee geoudit.
"'n Voorlopige verslag is aan die munisipaliteit voorsien, waarna insette aan die provinsiale-ouditkomitee gestuur is."
Volgens Botha is die raad by magte om 'n besluit te neem oor die herevaluering van poste tydens herstrukturering (soos in 2012), aangesien die verandering in funksies en verantwoordelikhede posvlakke kan beïnvloed.
Betogers was by tye vrolik en al singend voor die departement van siviele en tegniese dienste.
Personeel wat na die evaluasies op 'n ander posvlak geplaas word, sal hul gewysigde salaris ontvang die maand nadat die ouditverslag deur die munisipale bestuurder goedgekeur is.
"Daar is wel besprekings met die vakbonde gehou waartydens dit aan hul oorgedra is dat oorweging gegee sal word vir implementering vanaf 1 Julie 2017," het Botha gesê.
Werkers sal dus nie uitbetalings kan verwag wat oor jare strek nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'