Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Groot feesvierings is die naweek gehou by die huis van die geliefde George-ikoon, Greta Gericke, wat Donderdag 12 Oktober haar 99ste verjaarsdag gevier het.
Die vierings het al vroeër die week begin toe familie van oor die land begin aankom het.
Op die groot dag het talle plaaslike inwoners ook kom kuier of gebel.
Tannie Greta geniet altyd 'n kuier en 'n geselsie en hoewel die konstante aandag uitputtend was (sy is immers amper 100 jaar oud), het sy die aandag baie geniet.
Tannie Greta het ses kinders, 28 klein-kinders, 24 agterkleinkinders en een agter-agterkleinkind.
Daar was 'n afsonderlike geleentheid vir die familieviering op Saterdag.
Die verjaarsdagtradisie wat deur tannie Greta self begin is, is met groot oorgawe gehou.
Maak 'n wens! 'n Opgeruimde tannie Greta Gericke reg om haar 99 kersies dood te blaas.
Kyk 'n video hieronder:
Almal vorm 'n ketting en loop dan die vertrek binne waar die koek en eetgoed op die tafel staan, terwyl hulle 'n Duitse weergawe van Lank sal sy lewe sing.
Die koek was versier met 'n foto van tannie Greta, omring deur foto's van proteas en heide.
Dit was 'n huldeblyk aan haar man, Burger Gericke. wat 'n proteakwekery bedryf het.
Een van haar seuns, Bremer Gericke, het die "woord gedoen". Onder sy leiding het die gaste die letters van tannie Greta se naam gebruik om eienskappe wat haar beskryf, te noem.
Die eerste letter, "G", het hyself voorgestel, staan vir "Greta" - hierdie unieke, baie spesiale individu wat in haar lang lewe soveel beteken het vir haar familie en die gemeenskap waarin sy leef.
Die gaste het geen moeite gehad om haar goeie eienskappe te besing nie. Hulle eerste voorstel vir "g" was "geloof", omdat tannie Greta se geloof haar anker is.
Een van tannie Greta se seuns, Bremer Gericke, het 'n woordjie gesê.
In pas hiermee het een van haar dogters, Elisabeth, Psalm 23 voorgelees - 'n emosionele oomblik vir die familie.
Hierna het sy saam met een van haar sangstudente en 'n familievriend, Heinrich Jonck, Schubert se toonsetting van die psalm in Duits gesing.
Tannie Greta het haar geskenke daar en dan oopgemaak (ook deel van die tradisie), en daarna kon sy rustig agteroor sit en net die bordjie eetgoed geniet en lekker gesels.
Sy is baie dankbaar vir die seëning om so 'n uitgebreide familie te hê wat vir haar omgee. Sy het ook haar dank uitgespreek teenoor almal wat gebel of gekuier het.
Op die vraag of sy sal omgee dat videomateriaal van die vierings op sosiale media versprei word, het sy 'n oomblik gedink en toe gesê: "Ja wat, sit dit maar op. Ek dink die mense sal belang stel." Sy was reg.
Sy is alombekend en geliefd in George.
Om 99 kersies dood te blaas, sit nie in elke 99-jarige se asem nie. Gelukkig was tannie Greta se twee oudste dogters, Karen Temmingh (links) en Elisabeth Potgieter, gewillig om haar te help.
ARTIKEL: LIRYKE FERREIRA, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'