GEORGE NUUS - Sodra die reën kom is hul plekkies sopnat en vol modder. Dit is die noodkreet van Syferfonteiners wat die afgelope twee weke gebuk gegaan het onder die nat winterweer wat Georgiete en die res van die Wes-Kaap getref het.
Jolene Tarentaal en talle ander inwoners van die Syferfontein-plakkerskamp duskant Delvillepark is moedeloos oor hul lot.
"Ons soek nie gunplast nie, ons soek huise. Ons moes nou al ingetrek het by Reigerpark," het Tarentaal gesê. Die inwoners van Syferfontein was hoog op die prioriteitslys as begunstigdes vir die behuisingsontwikkeling by Erf 325, ook nou bekend as Reigerpark.
Die Syferfontein informele nedersetting is ongeskik bevind vir menslike bewoning en heelwat inwoners, waarvan baie kinders, is gediagnoseer met tuberkulose weens die nat toestande van hul wonings, en die swak ventilasie.
Terugvoer van Lauren Waring, die direkteur vir menslike nedersettings, beplanning en ontwikkeling en eiendomsbestuur, het egter aangedui dat bykans al die gesinne van Syferfontein wat kwalifiseer vir behuisingsgeleenthede reeds 'n huis ontvang het. Net 15 gesinne van Syferfontein moet nog huise ontvang.
Langtermynoplossings
Met die swaar reën verlede Donderdag het 'n groep inwoners die raadslid, Browen Johnson, gevra om te kom help. Johnson het by navraag gesê dat hy hom elke keer soontoe haas wanneer dit swaar reën.
"Ek stap dan deur tientalle huise en neem foto's. Ons probeer help met bouplastiek (gunplast). Ek wil die mense bitter graag help," het hy gesê. "Syferfontein moet 'n nuwe komitee stig en ons moet dringend langtermynoplossings probeer kry."
Die komiteelede van Syferfontein se vorige gemeenskapskomitee het intussen almal huise by die nuwe ontwikkeling gekry. Inwoners moet 'n nuwe komitee op 'n demokratiese wyse kies, wat as spreekbuis vir die gemeenskap kan optree.
Nog 'n kwelpunt is dat feit dat alhoewel die verwagte getal huisgesinne in die nedersetting veronderstel is om hier by 'n 100 te draai, die realiteit heelwat meer is met ongeveer 180 gesinne in die area. Nadat huisgesinne geskuif is na 'n Hop-huis in Reigerpark het nuwe intrekkers by die ou plakkershutte ingetrek.
Bouplastiek word gebruik om van die water te beheer.
Waring het die volgende navrae beantwoord:
Hoeveel huise in Reigerpark moet nog oorhandig word?
'n Totaal van 299 huise wat alreeds gebou is, is erg gevandaliseer en sal oorhandig word nadat dit deur provinsie herstel is.
Hoeveel van die begunstigdes is van Syferfontein? En is daar nog wat na Reigerpark gaan skuif?
'n Totaal van 137 begunstigdes wat in Syferfontein woon het gekwalifiseer om in die Erf 325 Behuisingsontwikkeling opgeneem te word. Daar is alreeds 122 geskuif en die res (15) sal geskuif word sodra provinsie die huise wat gevandaliseer is, herstel het.
Wat gemaak met die siele wat nog in Syferfontein woon?
Persone wat nie in aanmerking gekom het vir 'n behuisingsgeleentheid in die Erf 325 Behuisingsontwikkeling nie, sal voorlopig in Syferfontein aanbly waar tydelike dienste aan hulle voorsien word. In die toekomstige behuisingsbeplanning sal 'n geformaliseerde tydelike oorgangskamp vir persone geskep wat in hierdie informele nedersetting woon en nie vir 'n behuisingsgeleentheid kwalifiseer nie.
Is daar hulp oor hierdie reëndae?
Mense wat gedurende swaar reën probleme ondervind met dakke wat lek ensovoorts, moet dit aanmeld by die menslike nedersettings kantoor op die hoek van St Johns- en Varingstraat. Bouplastiek sal dan voorsien word aan diegene wat daarvoor kwalifiseer.
Emmers in een van die plakkershutte waar die huismense probeer om so droog as moontlik te bly.
Die omstandighede is moeilik... Syferfonteiners slaap so tussen die nattigheid in hul informele nedersettings.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’