GEORGE NUUS - Motorfietsryers van oor George het Dinsdag 14 Desember, hul enjins in Wellingtonstraat laat brul om mederyer en vriend, Dieter Gouws 'n gepaste afskeid te gee.
Hy het Sondag 13 Desember sy stryd teen Covid-19 verloor.
Gouws, wat onder sy vriende en medemotor-fietsryers as Big Show bekendgestaan het, was die plaaslike president van die Black Jacket-motorfietsryklub.
Sy seun, André Gouws, sê sy pa was gewild en geliefd onder almal met wie hy in aanraking gekom het.
"My pa was en is Koning Jesus se kind en 'n voorbeeld vir duisende. Hy was my alles. Meer as net legendary."
Gouws se vrou, Hantie Langenhoven, sê hy was die liefde van haar lewe.
"Hy was groter as die lewe self met 'n hart van goud. Ons gaan hom onbeskryflik baie mis."
Hy word oorleef deur sy ma, Rena, seuns Derick, Dieter en André, sy vrou Hantie en haar dogters Ninke Langenhoven en Grizelda Olivier, asook sy kleindogter Decinda Gouws.
Gouws word eerskomende Saterdag om 14:00 by die Bikers Church in Derdestraat gegroet.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'