GEORGE NUUS - Om aan skoonheidswedstryde deel te neem was net 'n stokperdjie vir plaaslike skoonheid Megan Stride van Pacaltsdorp.
Haar stokperdjie het nou 'n nuwe deur vir haar oopgemaak nadat sy onlangs in 'n nasionale tydskrif, Nubian Bride, verskyn het.
Sy vertel sy het aan plaaslike skoonheidskompetisies deelgeneem, maar mode en loopplanke was nie regtig deel van haar langtermynplanne nie.
Megan studeer tans sport en fiksheid aan eta Kollege in George.
Die tydskrif was haar eerste werk as model. "Ek was net gelukkig. Met my vorige kompetisies soos Mej. George High het ek rokke laat maak by Annalidda Kruger, en vir die fotosessie het sy my aanbeveel omdat 'n Kaapse model dit nie kon maak nie."
Sy en Annalidda het voorheen ontmoet toe sy ook haar matriekafskeidsrok gemaak het. Megan vertel dit was wonderlik om met Gert-Johan Coetzee en die fotograaf Daniël West te werk.
Sy vertel die aand voor een van die fotosessies was sy bietjie laat uit, en moes die volgende oggend douvoordag op wees om gereed te maak.
Megan met die bruidstydskrif waarin sy verskyn.
Megan soos sy in die tydskrif verskyn.
"Ek moes vroeg op wees vir my hare en grimering en toe die son opkom was ons al op die strand besig.
Daar was tye wat ek bang was vir die olifante, senuweeagtig, ongemaklik, moeg en een van die rokke moes hulle met knypers aan my vasmaak."
Sy is baie opgewonde omdat van die foto's ook in 'n internasionale tydskrif gebruik gaan word.
Megan meen omdat sy op skool aan sport deelgeneem het, het dit haar voorberei om kritiek te kan hanteer. Sy is ook bly dat sy nooit deel van 'n modelagentskap was nie, omdat dit sou wegneem of verander aan dit wat natuurlik is vir haar.
Megan beplan om vanjaar aan die Mej. Suid-Afrika kompetisie deel te neem.
Sy is ook bly dat sy nooit deel van 'n modelagentskap was nie, omdat dit sou wegneem of verander aan dit wat natuurlik is vir haar.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'