Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Marguerite van der Merwe se droom om eendag haar eie sakeonderneming te besit, het uiteindelik waar geword. Sy is die eienaar van Piekant Picnic en is onlangs as die AHi Wes-Kaap se klein besigheid van die jaar aangewys.
Kort voor dit was sy in Parys, Frankryk waar sy die onderneming by 'n groot internasionale leefstylgeleentheid kon bekendstel.
Verlede Vrydag, 2 Desember, te midde van 'n baie besige program het sy tyd ingeruim om haar suksesverhaal te deel.
Dis 'n lang pad wat sy geloop het sedert sy agt jaar gelede die onderneming begin het. Sy en haar gesin het in 'n stadium van Montagu in die Wes-Kaap na Jacobsdal in die Vrystaat verhuis. Haar kinders was toe nog baie klein.
Wanneer die gesin na sportgeleenthede gegaan het, was daar altyd die uitdaging oor wat om te doen met hul seuntjie as hy langs die veld op die gras sit. Sy het ook baie gebid oor wat om te doen sodat sy haar eie sakeonderneming kon begin.
Marguerite van der Merwe en haar personeel kyk na van die produkte wat hulle vervaardig. Foto: Eugene Gunning
Een aand het sy gedroom van 'n piekniekkombers. Sy het besef dat die Here dit nie toevallig laat gebeur het nie.
Reeds die volgende dag het sy aan die werk gespring. Sy het geen naaldwerk ondervinding gehad nie, maar sy het 'n naaldwerkmasjien by haar skoonma gaan leen. Twee weke later was haar eerste piekniekkombers voltooi. Sy het meer gemaak en dis hoe die onderneming begin het.
In 2016 het die egpaar na George verhuis en sy het die onderneming steeds van haar huis af bedryf. Sy het 'n toelaag van die staat gekry en toerusting aangekoop. Aan die begin van die jaar het sy 'n perseel in die middedorp gehuur.
Die onderneming vervaardig verskeie produkte. Benewens piekniekkomberse word daar onder meer ook wynsakke en groot pieknieksakke vervaardig. Sy doen self die ontwerpe.
In September is sy deur Wesgro genooi om die leefstylskou in Parys by te woon. Sy moes inderhaas reëlings tref. Tydens die geleentheid het sy baie gesien en geleer. Sy het onder meer besef dat as sy internasionaal wil meeding, die produkte meer omgewingsvriendelik moet wees.
Sy is verheug oor die AHI-toekenning en dit het haar laat besef sy is besig om haar stempel af te druk. Sy verskaf werk en dit het weer 'n uitwerking op die plaaslike ekonomie.
VIDEO: ‘n Droom word waar
Haar advies aan mense wat hul eie ondernemings wil begin is: Doen dit. Begin klein en brei stelselmatig uit. Jy kan klein begin en groot eindig.
Jy hoef nie duisende rande in die bank te hê nie. Wees ook bereid om baie hard te werk.
Sy het benadruk sy kon dit nie alleen doen nie. Dis met genade van Bo. "Ek sou dit ook nie kon doen sonder die steun van my familie nie."
Marguerite van der Merwe en een van die personeellede kyk na van die produkte wat hulle vervaardig. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'