Video
TUINROETE NUUS EN VIDEO - Wanneer Clinton 'Strandloper' Trimm, Khoisan-aktivis, elke jaar sy staptog strandlangs van Plettenbergbaai tot in Gordonsbaai aanpak, verlaat hy die strand by Victoriabaai om eers weer by Groot-Brakrivier by die kus aan te sluit.
Hy was die afgelope naweek in die omgewing en het op aandrang van Stanley Laminie, senior leier van die Pacaltsdorp Tradisionele Kulturele Khoisanraad, die tyd afgestaan om hierdie gedeelte uiteindelik te verken saam met 'n paar ander Pacaltsdorpers.
Hy het gesê die natuurskoon van hierdie gedeelte van die kus het hom diep geraak. "Ek sal graag 'n roete wil skep sodat ander mense dit ook kan geniet," het Trimm gesê. Hy voltooi sy jaarlikse staptog van Plettenbergbaai tot Gordonsbaai al vir die afgelope 20 jaar.
As kind was hy lief om strand toe te gaan om van huislike omstandighede te ontsnap. Dan het hy die vissermanne dopgehou, geselsies aangeknoop en baie geleer. 'n Hegte verbintenis met die strand en see het so ontstaan.
Sy verkenningstogte het 'n diep gewaarwording en belewing van die wêreld van sy antieke voorsate meegebring en het uiteindelik 'n manier geword om aandag te vestig op die regte en nalatenskap van inheemse mense. Trimm sê die term "inheemse mense" omvat in sy oë nie net die Boesmans en nasate van die eertydse Strandlopers nie, maar alle mense op die planeet.
"Die oorsprong van die mens is aan hierdie kus waarlangs ek stap, en vir my beteken inheems dus die hele aardse ras. Almal is eintlik inheems en dit gaan vir my oor die regte van alle mense."
Trimm probeer deur sy staptogte 'n versoeningsboodskap uitdra en die verskillende rasse aanmoedig om met wedersydse respek na mekaar uit te reik. Mense is nuuskierig oor die man met die lang hare en diervelle vir klere wat tussen die hoog- en laagwatermerk lewe. Hy slaap onder die sterre en dra net sy velkombers saam. Waar hy persone op sy staptogte teëkom, knoop hy geselsies aan. "Ek het al moeilike boere raakgeloop wat wil weet wat ek op hulle grond soek, maar hulle het my leer ken en nou is dit oukei."
Die effek van voortdurende ontwikkeling aan die kus maak hom baie ongelukkig. Dit is besig om dele van die natuurlike voetpaaie uit te wis en beperk die toeganklikheid van strande, sê hy.
Op pad om 'n klein vuurtjie aan te steek in die middel van die Gwaiingriviermond.
'n Paar Pacaltsdorpers was saam met hom by die Gwaiingriviermond waar hulle die kranse en poele verken het. Met 'n bondeltjie droë gras, stokkie en klip het hy in die riviermonding 'n vlammetjie aan die brand gekry. Dit was tekenend van die hoop wat in hom brand vir 'n nasie wat vrywillig met mekaar sal hande vat oor kultuurgrense heen.
Kyk 'n video hieronder
Alle kulture vier Erfenisdag in Pacaltsdorp
Die Khoisanraad reël 'n optog en kultuurprogram in Pacaltsdorp om Erfenisdag op 24 September te vier. Laminie nooi alle groepe om aan die kulturele uitstallings by die amfiteater deel te neem en mense wat meer oor hulle kulture wil vertel, sal 'n spreekbeurt kry.
Die optog sal by die N2-brug begin en by die amfiteater eindig. Meer inligting sal op 'n later stadium bekendgemaak word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'