Verlede week se vloedwater het besigheidseienaars en huisbewoners in die omgewing van die stormwateraanleg by Erf 5066, Sandkraalweg, Tembalethu, groot skade berokken. By ‘n braai- en eetplek op Erf 5066 moes meubels, wat die besigheid se vries- en yskaste insluit, op kratte gesit word om te voorkom dat dit beskadig word.
Die Direkteur van Siviele Ingenieurswese van die George-munisipaliteit, mnr. Harold Basson, verduidelik dat die stormwaterstelsel in die direkte omgewing van die eiendom in die proses was om verbeter te word.
"Die verbeterings was tydens die onlangse reënval in ‘n onvoltooide toestand," het hy gesê.
"Die huise in die area is gebou op grondvlak met min of geen vlakverskil nie.
Indien stormwater om die huise opdam tydens hoë reënval (wat wel gebeur omdat die area baie plat is) loop die water in die huise in.
"Tydens die aanlê van die dienste kon daar weens die beperkte beskikbaarheid van be-huisingsfondse slegs rudimentêre storm-waterdienste aangelê word.
"Behuisingsprojekte word befonds vanaf Nasionale Regering en die munisipaliteit of provinsie tree slegs as agent op," het hy gesê.
Basson en sy span is dit eens dat inwoners van die Erf 5066-omgewing binnekort baie beter lewensomstandighede te wagte kan wees.
Verlede week se stormwater het noodsaaklike werk in die wiele gery en groot skade is aan omliggende huise en besigheidspersele aangerig.
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS