TUINROETE NUUS - As Herold en die Montagupas jou na aan die hart lê moet jy deel wees van 'n uitstappie wat op 21 Oktober deur die Stigting Simon van der Stel: Suid-Kaap gereël word.
Waar die ou wapad van George en Mosselbaai - die een van die Wes-Kaap na die Oos-Kaap noord van die Outeniquaberge kruis, sowat 700 m bo seespieël en 16 km van die see, met een voet in die Klein-Karoo en een in die Kaapse fynbos, lê die skilderagtige gemeenskap van Herold.
Hier het mense al lank voor koloniale tye hul gedagtes in rotstekeninge vasgelê. Hierdie plek van ryke geskiedenis en kultuur is ook ryk aan biodiversiteit en is waar die gesogte heuningbostee groei.
Herold Meander en die gemeenskap van Herold hou hierdie kultuur en geskiedenis in stand deur ontwikkeling met behoud van kultuurgoedere en toevoeging van waarde. Dit maak dit toeganklik vir besoekers om 'n insig te kry in hierdie rustige, natuurskone kultuurlandskap.
Die Simon van der Stel Stigting: Suid-Kaap reël vir 21 Oktober om 09:00 'n besoek aan Herold en almal is welkom.
Die besoek begin by Kaukou Tee in die ou hostel in Herold waar die persoon wat die hoofdryfkrag agter hierdie en ander ontwikkkelings is, Theo Adams, die gasheer sal wees. Hy sal van hul aktiwiteite ten opsigte van heuningbostee, proteas, skaapboerdery, bewaring van erfenisgeboue en die bevordering van Agri-toerisme in die algemeen vertel.
Besoek sal daarna aan die bopunt van die Montagupas gebring word, waar kenners oor die geskiedenis en die erfeniswaarde van die pas, waardeur die binneland onder meer toegang tot die see gekry het, sal praat.
Padboumetodes van die 19de eeu sal verduidelik word, saam met die belang van die pas en die huidige stand van sake.
Na besoek aan die Montagupas gaan die groep na Herold Wyne waar middagete (opsioneel), 'n keldertoer en wynproe (opsioneel) aangebied sal word.
Indien deelnemers dit verkies, kan hulle 'n eie piekniekmandjie bring.
Koste vir deelname aan die uitstappie sal R100 per persoon wees – ete en wynproe nie ingesluit nie.
Deelnemers word versoek om die korrekte bedrag geld in 'n koevert met u naam buite-op te bring en voor 09:30 by die hostel in Herold in te handig. Dit word ook voorgestel dat 'n ligte voustoel saamgebring word na die bo-punt van die Montagupas. Die voertaal sal Afrikaans en Engels wees.
Deelnemers word daarop gewys dat die Montagupas gesluit is. Hoewel die sementblokke van tyd tot tyd wederregtelik verwyder word, is die gebruik van die pas nie wettig nie en rig verdere skade aan. Die roete oor die Outeniquapas na Herold word aanbeveel.
Die oppervlak is nie geskik vir gebruik deur gewone voertuie nie. Vir navrae, skakel Natie de Swardt by 064 471 2090 of Maryth Meise by 084 505 1071.
Over the Mountain-gastehuis is 'n gesogte oorslaapplek in dié pragtige vallei. Foto: Jeff Ayliffe
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’