GEORGE NUUS - Ons kinders is nie engeltjies wanneer hulle by die deur uitstap nie, maar hulle bly steeds ons kinders en ons verantwoordelikheid.
Hierdie was die boodskap van verskeie vroue wat verlede Saterdagmiddag, 26 Februarie, die tyd geneem het om na mekaar se stories te luister tydens 'n ondersteuningsgeleentheid vir vroue, met die tema: "Maar 'n ma se liefde…".
Die gemeenskapsorganisasie, Team Strong Women van Borcherds, ondersteun deur pastoor Aldon Meyer van Pacaltsdorp Drug Support Group, het vroue 'n geleentheid gebied om hul harte uit te praat oor die moeilike pad wat ma's dikwels moet loop wanneer hul kinders se lewenspaaie kruis met dwelms en ander ongewenste faktore. Die vroue wat in 'n kerksaaltjie in Proteastraat in Pacaltsdorp bymekaargekom het, het elkeen 'n verhaal waarby ander kan aanklank vind.
"Sy is my baba, en toe word sy swanger," het die een ma vertel. "Sy was maar 15 jaar oud." 'n Ander ma vertel van haar seun se dwelmverslawing: "Dit was eers toe ek opgehou het om vir hom te bid, en begin bid het vir 'n ander vrou se kind, toe dinge begin draai. Ons kinders is in en uit die tronk. Dis nie 'n lewe nie."
Nog 'n ma het hartseer vertel hoe haar dogter haar eie lewe wou neem, en gered is deur 'n vreemde persoon wat haar op 'n brug sien staan het. Die dogter se seksualiteit het haar kwesbaar gemaak vir gevoelens van verwerping, en die ma moes diep gaan grawe om weer 'n verhouding met haar dogter te bou.
Linda Smit (links) en Dora Blaauw van Team Strong Women, saam met pastoor Aldon Meyer van Pacaltsdorp Drug Support Group.
"Die lewe daar buite is woes," het Junetta Jumat gesê. Dwelms en alkoholmisbruik bly 'n groot probleem in baie gemeenskappe. "My kind het mal geraak van die dwelms en kaal voetjies van Knysna tot in George geloop," het nog 'n ma vertel. "Ek het net die een seun, en hy trek die velle van my gesig af. Hy stel my so teleur."
Al hierdie ma's bid hulle knieë deur. "Wanneer 'n ma bid, kom die Here deur," het Linda Smit van Team Strong Women gesê.
"Ons wil die gemeenskap help. Ons wil vroue bemagtig, want hulle dra hulle kinders op hul hande en in hul harte."
Ouers wat hulp verlang kan kontak maak met pastoor Aldon Meyer by 084 635 9183 of aldonmeyer61@gmail.com. Kontak Team Strong Women by 063 048 3213 (Dora Blaauw) of 078 180 5909 (Linda Smit).
Dora Blaauw: “As jou kind nie rigting het nie, dan kies jy vir hom rigting.”
Linda Smit: “Wanneer ‘n ma bid, kom die Here deur.”
Junetta Jumat van Pacaltsdorp: "Die lewe daar buite is woes." Foto's: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'