GEORGE NUUS - Minstens drie persone is verlede week in hegtenis geneem in verband met die beweerde diefstal van gesteelde plaveisel.
Die plaveisel is volgens die polisie op twee afsonderlike plekke gesteel.
Een daarvan in Delvillepark in Pacaltsdorp waar plaveisel van die George-munisipaliteit gesteel is, en Sondag 26 Mei is stene van Sanral langs die N2-snelweg tussen Pacaltsdorp en Thembalethu gesteel.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die arrestasies bevestig en gesê nog arrestasies kan volg in die Pacaltsdorp-voorval.
Die Pacaltsdorp-polisie het 'n man (37) verlede Woensdag in hegtenis geneem in verband met die beweerde diefstal van plaveisel op die leë gedienste erwe naby Artillerystraat, Delvillepark.
Bronne na aan die ondersoek het gesê dat die verdagte dit aan inwoners van Pacaltsdorp en selfs Groot-Brakrivier verkoop het.
Die plaveiseldiefstal is volgens bronne na aan die ondersoek vroeg in Mei by die George-munisipaliteit en die polisie aangemeld waarna die munisipaliteit die Pacaltsdorp-polisie gevra het om die saak te ondersoek.
Die polisie se ondersoek het hulle later Woensdagaand tot by die huis van 'n voormalige raadslid (46) in Pacaltsdorp gelei waar die plaveistene deur munisipale beamptes uitgeken is as hul (die munisipaliteit se) eiendom.
Die man sou verlede Vrydag in die George-hof verskyn, maar die saak is nie op die hofrol geplaas nie, omdat die dossier onvolledig was.
Die voormalige raadslid is gewaarsku om vandag, 6 Junie, in die hof te verskyn op 'n klag van besit van gesteelde eiendom.
As die saak nie dan hofgereed is nie, kan dit volgens hofreëls tydelik uitgestel word vir die afhandeling van die polisie se ondersoek.
Hierop het Pojie gesê: "Al het die persone nie in die hof verskyn nie, gaan ons ondersoek voort en kan die persone later voor die hof gebring word."
So het die pad gelyk voor die plaveisel gestroop is. Foto: Google Maps
In nog 'n voorval is 'n vrou (52) van George en 'n man (39) van Borcherds ook verlede week deur die Conville-polisie in hegtenis geneem vir die diefstal van plaveisel wat in die voetpaadjie langs die N2-snelweg agter Lawaaikamp verwyder is.
Kringtelevisiemateriaal is aan die polisie oorhandig wat glo twee mense uitbeeld wat die plaveistene verwyder en agter op 'n vrou se waentjie laai.
Beide die waentjie en die wit Volkswagen motor waarmee die vrou gery het, het verpersoonlikte nommerplate.
Volgens die Conville-polisie is die saak tydelik van die hofrol geskrap vir verdere ondersoek. 'n Nuwe hofdatum sal vasgestel word sodra die ondersoek afgehandel is.
At least three people were arrested last week for the alleged theft of paving bricks. According to the police, the thefts occurred at two separate places: in Delville Park in Pacaltsdorp, paving belonging to George Municipality was stolen, and on Sunday 26 May, Sanral's paving was stolen along the N2 highway between Pacaltsdorp and Thembalethu. All the suspects were released and did not appear in court after the cases were struck off the court roll for further investigation. Police however said that as soon as their investigations are done, the dockets will be referred back to the director of public prosecution (DPP) for consideration.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'