Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Ritte op motorfietse het Saterdag 9 April gesorg vir groot vreugde onder inwoners en leerders van Up with Downs in George.
Toe lede van die Steelwings Garden Route-klub, kort voor 10:00 met die kenmerkende klank van hul Harley Davidson-motorfietse by die Up with Downs in Blanco opdaag, was daar al klaar opgewondenheid.
Toe hulle 'n rukkie later van die inwoners en leerders trakteer met ritte in die omgewing is daar egter nog breër geglimlag.
Verskeie van die leerders en inwoners het nadergestaan en hulle kon nie gou genoeg valhelms aantrek nie. Die gesigsuitdrukkings het alles vertel.
Die dag se verrigtinge het net na 09:30 by Engen in Heatherlands begin. Die groep het daarna koers gekies na die Up with Downs-persele waar hulle aan inwoners bekendgestel is en toe op 'n begeleide toer van die persele geneem is.
FOTOGALERY: Steelwings Garden Route-klub sorg vir groot vreugde
Daarna het Roelof Baker, president van die Steelwings Garden Route, namens die klub 'n tjek van R20 000 aan Brenda Boshoff van Up with Downs oorhandig. Volgens Baker is dit nie die laaste keer dat die motorfietsklub die instansie sal help nie. Hulle sal help wanneer en hoe hulle kan.
Boshoff het gesê die instansie is geseënd om die geld van die motorfietsklub te ontvang. "Ons is ontsaglik dankbaar vir hul ondersteuning."
VIDEO: Tyd vir pret by Up with Downs George
Hul liefde en omgee vir die skool en kinders word opreg waardeer.
Volgens haar help elke bietjie. Die nuutste bydrae maak dat 'n beter en veiliger skool vir die kinders geskep kan word.
Lede van die Steelwings Garden Route Harley Davidson club en inwoners en leerders van Up with Downs George. Saterdag in Blanco.
Lede van die Steelwings Garden Route Harley Davidson-klub ontmoet inwoners en leerders van Up with Downs. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuirnoete nuus'