GEORGE NUUS - Joggie van Staden, was verlede Woensdag die gasspreker by die ledevergadering van die Suid-Kaapse tak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika by die George-museum. Van Staden het ook die Statebybel van sy stamvader saamgebring na die byeenkoms.
Die Statebybel uit die Nederland het in 1686 saam met sy stamvader, Maarten van Staden en sy vrou, Margaretha Ernstsz in die Kaap gearriveer.
Die Bybel, wat 'n volle 9 kg weeg, is in besonder mooi skrif gedruk, en is in die trotse besit van Joggie (Joachim) van Staden.
Die stamvader, Maarten was 'n tuinier van beroep, en het weldra, na sy aankoms in die Kaap, lid van die Heemraad van die VOC geword, naamlik in twee termyne, van 1698/99 en weer van 1703/4.
Maarten van Staden was in 1706 een van nege persone wat in opstand teen Willem Adriaan van der Stel gekom het, en toe hulle nie by die hof opgedaag het vir hulle verhoor nie, deur die goewerneur vir vyf jaar na Mauritius verban is.
Joggie het die hele stamboom van sy familie sedert sy stamvader se koms uitgelê, en ook baie interessante gegewens oor die Van der Walt-familie, aan sy moederskant verstrek.
Dit was voorwaar 'n baie insiggewende middag vir die gehoor by die George-museum.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'