Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die St. Mary's Primêre Skool Musiekakademie is Vrydagaand, 11 November, amptelik tydens 'n geskiedkundige geleentheid in die skoolsaal bekendgestel.
Ouers, afgevaardigdes van die skoolbeheerraad en onderwysdepartement, en prinsipale en personeel van ander skole was op die gastelys.
Die sterre van die aand was die leerders: ‘n koor van 45 lede en ‘n hand vol wat met ‘n instrumentale demonstrasie gewys het dat hulle flink besig is om vertroud te raak met hul instrumente en met musiekmaak onder leiding van musiekonderwyser Karl Ackerman en nog ‘n onderwyser, Patrick Booysen.
Die musiekakademie is ‘n jare lange droom wat bewaarheid is. Laurentius Muller, die prinsipaal, het gesê die droom het ontstaan toe ‘n klompie van die onderwysers van die skool ‘n jaar of twee gelede ‘n klein orkes op die been gebring het.
“Ons het toe die idee gekry dat ons ‘n klompie leerders bymekaar kon bring om ‘n groep te stig. Daar is soveel talent onder ons leerders.
“Mnr. Ackerman was amper soos ‘n wens wat waar geword het toe hy op daardie stadium net by ons skool opgedaag het om sy dienste aan te bied. Hy was nog nie bewus daarvan dat ons die musiekakademie in ons kop het nie.”
FOTOGALERY: St. Mary's Primêre Skool Musiekakademie bekendgestel
Nadat Ackerman by die skool aangesluit het, het lesse in blokfluit, marimba en klavier begin en die koor is op die been gebring. Die koperblaasorkes is die jongste toevoeging tot die programme by die akademie.
Muller het gesê hulle is in die wolke oor hoe alles meegewerk het vir die uiteindelike totstandkoming van die akademie.
Ackerman was die hoof van uitvoerende kunste by die Oxbridge International School in Toshkent, Uzbekistan voor sy terugkeer na Suid-Afrika.
“Ons is gelukkig om hom hier te hê en ons hoop ons sal vir baie jare nog ’n verbintenis met hom hê,” het Muller gesê.
Daar is tans 20 leerders in die akademie van wie 10 lid is van die koberblaasorkes.
Fondse vir die stigting van die akademie en aankoop van instrumente is deur die beheerliggaam verskaf. Die skool het egter ‘n bloutjie geloop met die eerste transaksie vir die koperblaasinstrumente toe die verskaffer met die geld verdwyn het sonder om die instrumente te verskaf. Hulle het nie moed opgegee nie en ‘n groot gedeelte van die geld is teruggekry sodat hulle kon voortgaan met die aankope.
VIDEO: St Marys Primêr se musiekakademie bekendgestel
Voor die musiekakademie begin is, was dans en drama reeds deel van die skoolkurrikulum. Die akademie se programme is slegs buitemuurs, maar die skool hoop om dit in die toekoms in die sillabus te kan opneem. Muller het die hoop uitgespreek dat leerders van ander skole ook uiteindelik deel kan word van die musiekakademie se programme.
Lede van die koperblaasorkes het 'n demonstrasie in die Musiekakademie se lokaal vir hul ouers gelewer. Foto: Alida de Beer
Musiekkenner is beïndruk
Koos Greyling, voorsitter van die George-musiekvereniging, het gesê hy is beïndruk deur dit wat die leerders in 'n kort tydjie geleer het.
Philip Jaftha, kurrikulumadviseur vir die kunste by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, het gesê St. Mary’s is besig met pionierswerk en skep geleenthede vir kinders deur hierdie inisiatief in ‘n omgewing waar jongmense sukkel om werk te kry. Die leer van ‘n musiekinstrument gee aan kinders ‘n voorsprong.
Navorsing het gewys dat dit hul akademiese prestasie met tot 40% kan verbeter. Hulle leer ook selfdissipline aan.
Die koor onder leiding van Patrick Booysen bekoor die gehoor. Foto: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'