Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Bekende fietsryer van Pacaltsdorp, Faizel Marks, het na die Cape Town Cycle Tour vroeër die maand, 'n bietjie tyd saam met kinders van die buurt spandeer tydens 'n fietsryoggend Saterdag in Dellvillepark.
Marks beywer hom tans om 'n liefde vir dié sport onder kinders te kweek, en wil graag 'n fietsryklub in Pacaltsdorp stig. "Die woonbuurt het nog nooit so iets gehad nie," het Marks gesê. "Ek word ouer, ek kom agter my tye is nie meer wat dit was nie, en ek wil graag my liefde vir fietsry met die jonger kinders deel."
Die kleingoed het al te lekker met hul fietse in Lynxstraat, voor Dellvillepark Primêr gery. Die geleentheid was informeel, en het onder die ouers se toesig plaasgevind. Sowat 15 kinders het opgedaag om in die pret te deel.
Volgens Marks het sy ouma, Chrissie Marks, destyds die potensiaal in hom raakgesien. Faizel ry al van 15-jarige ouderdom fiets. Sy ouma het sy eerste fiets by Willie Marx se fietswinkel gekoop, en self sy fietsryklere gemaak.
"Willie weier om ouma se rekening te sluit, al is sy reeds 'n paar jaar oorlede, want sy was die eerste bruin vrou wat by hom 'n fiets gekoop het," het Marks se ma, Blanche Benjamin, gesê.
Kyk 'n video hieronder.
"Ouma het elke maand 'n paar rand afbetaal aan Faizel se eerste fiets. Faizel is soos 'n seun vir Willie, wat hom deur die jare met sy fietsry ondersteun het."
Lynxstraat in Dellvillepark was verlede Saterdagoggend vol jong fietsryers wat graag saam met Faizel Marks wou ry. Foto's: Michelle Pienaar
Faizel tydens die Cape Town Cycle Tour vroeër die maand.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'