GEORGE NUUS - 'n Huiseienaar in die Andersonville-buurt in Pacaltsdorp is hoogs ongelukkig omdat die boubeheerafdeling van die George-munisipaliteit haar nie wil help om 'n dispuut op te klaar oor die beweerde oorskryding van haar erf se grenslyn nie.
Volgens Nathleen Pieterse staan 'n gedeelte van die buurman se huis op haar en haar man se erf.
Sy sê haar man, David, 'n bouer, het dit agtergekom toe hulle die fondasies vir hul nuwe huis in Maart verlede jaar begin grawe het.
Hulle het die erf op tender van die George-munisipaliteit gekoop.
"Ons moes 'n landmeter inkry om opmetings te doen toe ons nie die hoekpen van die erf kon kry nie en die bouinspekteur wou keer toe ons fondasies begin grawe.
"Die opmetings het gewys dat die buurman se huis met 600 cm x 6,1 m in ons erf insny. Ons het self probeer om die saak te besleg en wil regstappe neem, maar dit kos ons 'n klomp geld.
"Ons het die saak al met die buurman probeer uitklaar, maar dit bring ons nêrens nie."
Toe sy die beweerde oorskryding by die boubeheerafdeling aanmeld, het amptenare haar aangeraai om 'n regsproses te volg en 'n hofbevel teen die buurman te kry.
"Die munisipaliteit moet tog toesien dat bouregulasies nagekom word, dus kan ek nie aanvaar dat hulle net hulle skouers optrek nie," sê sy.
Die hoeke van die twee huise loop na mekaar toe. Regs is die Pieterses se huis.'n Houthekkie pas darem nog tussen die twee huise in.
Die Pieterses het klaar gebou en ingetrek in hul nuwe huis, wat op die een punt feitlik aan hul buurman se huis raak. Pieterse sê 'n grensmuur tussen die twee huise wat hulle wil oprig om hul twee honde binne die erf te hou, sal doodloop teen die bure se huis.
Die munisipale bestuurder, Trevor Botha, het by monde van die munisipaliteit se kommunikasieafdeling soos volg gereageer:
"Die George-munisipaliteit bevestig dat die eiendom aangrensend aan die Pieterses klaarblyklik oor die erfgrens gebou is en dat die munisipale regsafdeling tans die nodige doen om die klaarblyklike oorskryding reg te stel. Dit mag regstappe teen die eienaar van die aanliggende eiendom insluit."
Dit is nie duidelik wanneer die munisipaliteit begin het om "die nodige stappe" te doen nie. Pieterse het vandeesweek gesê niemand van die munisipaliteit het hulle nog gekontak nie.
Die buurman, Selvin Meyer, wie se dogter en skoonseun 'n gedeelte van sy halfklaar huis bewoon, het gesê die bouinspekteur was gereeld op sy eiendom terwyl hy gebou het.
Die huis is nog nie klaar nie. Hy kon nie sê of hy wel 'n okkupasiesertifikaat van die munisipaliteit ontvang het nie, en is nie bewus van enige stappe wat die munisipaliteit neem nie. Hy het gesê die munisipaliteit moet 'n landmeter stuur om te bepaal of daar wel 'n oorskryding is.
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'