Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Dit was Dinsdagaand, 16 November 'n blye weersiens toe talle oudstudente van die eerste groep (1971) van die destydse SA Leërvrouekollege - voorheen Burgerlike Beskermingskollege - na 50 jaar 'n reünie in Wilderness bygewoon het.
Hulle het in 1971 geskiedenis gemaak toe hulle by die SA Leërvrouekollege in George aangemeld het en was ook die baanbrekers vir ander meisies om hul opleiding by die kollege te ontvang.
Die kollege was vanaf 1971 tot 1998 deel van die gemeenskap van George. Die reünie is gisteraand, Woensdag 17 Oktober, afgesluit.
Die reünie sou al in die eerste deel van die jaar plaasgevind het, maar moes uitgestel word as gevolg van die Covid-19-situasie.
Onder Dinsdagaand se groep was die bekende mediapersoonlikheid Ruda Landman, en die eerste bevelvoerder, afgetrede genl.maj. Marthinus du Plessis. Hy was destyds die stigtersbevelvoerder.
Vir die reünie het drie van die oudstudente al die pad van Amerika, Switserland en Nederland gekom. Dit was die eerste keer dat die meerderheid van die dames van die jaargroep weer saam was.
Destyds was hulle 18/19 jaar oud en nou is hulle 69/70 jaar oud. Van die oorspronklike groep van 128 is reeds 21 oorlede. Die geleentheid is deur 59 van die oudstudente bygewoon. Landman wat destyds aangewys is as beste student van die jaar, het as programleier opgetree.
Dit is afgeskop met 'n "Ken mekaar" en daar is heerlik gelag toe die oudstudente weer aangetree het vir 'n "parade".
Du Plessis het die "inpeksie" van die parade waargeneem. 'n Video is ook gewys van onder meer hoe die studente destyds opleiding ontvang het by die kollege in George. Dit huisves deesdae die polisie.
Video: Soldoedies kuier saam
Van die oudstudente kon nie uitgepraat raak oor die positiewe invloed wat dit op hul lewens gehad het nie. Van hulle het gesê daar behoort gekyk te word na 'n stelsel wat voorsiening maak vir nasionale diensplig vir mans en vroue.
Arina Jooste, die koördineerder van die reünie, het gesê dis 'n groot fees dat almal weer saam is. "Die meeste van die vroue het mekaar 50 jaar laas gesien."
Landman het dit beskryf as 'n geleentheid om terug te dink. Dit was destyds 'n buitengewone jaar wat baie vir almal beteken het.
Du Plessis het gesê die kollege het 'n groot invloed op die vroue se lewens gehad.
Die oudstudente staan weer "parade".
Twee kamermaats van destyds weer saam. Gail Hess (links) het al die pad van Switserland gekom en Linda Müller van die VSA.
Arina Jooste, (links) die koördineerder van die reünie en Ruda Landman.
Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'