Sowat sestig lede van die Suid-Kaapse tak van die GGSA, asook ander belangstellendes, het hierdie werksessie oor familiegeskiedenis in die George-museum bygewoon.
Du Toit het interessante wenke verskaf vir diegene wat daarin belangstel om 'n boekie te publiseer met hul familie-geskiedenis. Die ander spreker, Alta Griffiths, voorsitter van die elektroniese tak, het onder meer 'n lesing gegee oor navorsing by begraafplase, en hoe om jou familie op daardie manier op te spoor.
Die gebruik van verskeie ander beskikbare navorsingsbronne om jou familie-geskiedenis na te vors is ook bespreek, waaronder boedelinventarisse, familiebybels, sterfkennisse en huweliksregisters. Hierdie bronne is beskikbaar by argiefbewaarplekke en die Genealogiese Instituut van Suid-Afrika (Gisa) op Stellenbosch.
Volgens Abrie de Swardt, voorsitter van die Suid-Kaapse tak van die GGSA, bied die plaaslike museum en biblioteek waardevolle navorsingsbronne vir die familie-geskiedenis van George-inwoners. "Die bronne behoort meer gebruik te word. Dit is ook die doelwit van hierdie tak om groter belangstelling in al twee instellings by sy lede te vestig," het hy gesê.
Reeds as jong kind was Du Toit geïnteresseer in die konneksies wat daar binne een familie bestaan.
Een van haar voorvaders, het sy uitgevind, was gebore slegs sowat vyf dae nadat sy ouer boetie, van 18 maande, in 'n seepkom verdrink het.
"Noudat ek hierdie inligting het, kan ek nie help om te wonder hoe daardie kind se lewe was nie, en hoe sy broer se dood sy eie lewe beïnvloed het nie. Ons geskiedenis het 'n effek op ons lewe en ons toekoms," het sy gesê. Die genealogiese genootskap het landswyd 13 takke, en vier vanjaar hul 50ste bestaansjaar.

Van links is Wilkie Barkhuysen, ondervoorsitter van die Suid-Kaapse tak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA), die sprekers Martie du Toit en Alta Griffiths van die GGSA se elektroniese tak, en Abrie de Swardt, voorsitter van die Suid-Kaapse tak.
ARTIKEL EN FOTO'S: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'