GEORGE NUUS - 'n Nuwe inisiatief om meer blootstelling vir die kunswerke en handgemaakte items van Pacaltsdorp se inwoners te gee, is begin.
Dit vind plaas onder die vaandel van die Pacaltsdorp Community Business Association in samewerking met Oom Bul's koffiewinkel en Mountview Enterprises.
Luwayda Trantaal, voorsitter van die Pacaltsdorp Community Business Association, sê die doel is hoofsaaklik om die kunswerke meer blootstelling te gee. Dit behels egter veel meer. In die stadium is dit 'n beginprojek en die plan is om betrokkenes te help met produkontwikkeling.
Volgens haar is daar baie mense met talent, maar hulle kort net hulp met produkont-wikkeling.
'n Databasis vir kunstenaars word saamgestel en belanghebbendes sal hul kunswerke en handgemaakte items kan uitstal by die Pacaltsdorp Community Business Association se kantore op die hoek van Mission- en Kerkstrate in Pacaltsdorp.
Aansoekvorms is beskikbaar en belangstellendes kan tot 18 Oktober aansoek doen. Mense wat betrokke raak sal hul produkte kan uitstal by stalletjies en besoekers sal van die produkte kan koop.
Die plan is om soveel moontlik mense te bereik en later sal werkswinkels ook aangebied word. Dit sal lewendige, inter-aktiewe werkswinkels wees waar mense se talente verder ontsluit kan word.
Met die projek word gehoop om by te dra tot die plaaslike ekonomie en werkskepping. Sy het mense genooi om betrokke te raak.
"Ons is op soek na mense met kundigheid en vaardighede. Dit is tot voordeel van die gemeenskap en ons wil mense probeer help. Daar is nie vir almal werk nie en die is 'n manier om mense te help om 'n inkomste te verdien."
Mense wat betrokke wil raak kan 072 692 1880 kontak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'