GEORGE NUUS - O die donkie is 'n wonderlike ding sing Chris Blignaut en iemand wat daarvan kan getuig is Rupert Ferreira (19) van Wildernishoogte.
Rupert is die eienaar van Donkey Forest Walk en die vier donkies wat hy besit verskaf vir hom baie vreugde.
Die jongman neem mense op begeleide donkiestaptogte en gebruik dan die geld om vir die donkies kos te koop.
Soggens sit hy op die skoolbanke by Van Kervel Skool waar hy 'n gr. 12-leer-ling is en in die middae tussen 15:00 en 16:00 en Sondae tussen 10:00 en 11:00, en 14:00 en 15:00, bied hy die staptogte aan.
In Mei is dit al 'n jaar wat hy die staptogte van sowat 1,3 km aanbied.
Rupert woon op 'n plaas in Wildernishoogte en het voorheen niks van donkies geweet nie. Sy eerste donkie was Stella en hy het haar gekry toe sy net twee maande oud was.
Sy kom van Oudtshoorn en hy het baie by haar geleer.
Die ander drie donkies is Blackie wat van Prins Albert kom, Jerry wat van Wildernis kom en Grace wat daar plaaslik gebore is.
Die idee om donkiestaptogte daar aan te bied was oorspronklik sy idee. "Ek het hier grootgeword. Ek het gesien wat iemand anders doen wat by perde betrokke is. Eendag het ek die idee in my kop gekry om iets met my miniatuur donkies te doen. Hulle is almal rescue donkies. Ek wou net geld insamel om voer vir my donkies te koop."
As beginpunt het hy kinders in die omgewing gekry om saam te stap op die roete. Daarna het hy 'n advertensie saamgestel en dit op Facebook geplaas.
Die donkies is aan halters vas en word dan begelei. "Ek vat gewoonlik nie meer as vyf mense op 'n staptog nie."
Tydens die staptogte vertel hy onder meer van die geskiedenis van die plaas wat oorspronklik aan sy oupagrootjie, Andries Herklaas Botha, behoort het.
Hy het benadruk dat dit nie met sy skoolwerk inmeng nie en dat dit verskriklik vinnig uitbrei. Hy maak aan die einde van die jaar klaar met skool en sy plan is om dit aanstaande jaar voltyds te doen.
Die donkies lê hom baie na aan die hart. "Hulle is soos my kinders."
Oor die rede vir die gewildheid van die staptogte het hy gesê: "Ek dink dit is baie gewild want 'n donkie is 'n wonderlike ding. As jy 'n donkie-mens geraak het, is jy vir altyd 'n donkie-mens."
Gaan loer gerus na die donkies op Rupert se Facebook-blad, Donkey Forest Walks.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’