Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die leier van die Donkiekar-boereorkes se oë het wyd gerek toe hy verlede week die vloerplanke van 'n stokou gebou in Yorkstraat lig.
Brian Ferreira, 'n musikant en meesternutsman van beroep, is vir hulp genader toe dit aan die lig kom dat boorkewers die houtvloer van 'n "historiese poskantoor" aangeval het.
Die gebou word deesdae as 'n motorhandelaar bedryf. Toe Ferreira die vloerplanke lig, kom hy af op rye ysterhout wielnawe - die binnekant van 'n ossewawiel - wat gebruik is om die plankvloer te stut. 'n Naaf of spil is die middelpunt van 'n wiel waardeur die as gaan en waarin die speke vassit.
"Ek was so verras. Kan jy glo die nawe is destyds vir ossewaens gebruik?" het Ferreira gesê. "Dit is baie sterk, want dit is van ysterhout gemaak." Die eienaar van die gebou, André Fourie, bedryf sy motorhandelaar Automax dus op die wielnawe van ossewaens. Fourie is nie van plan om die nawe te verwyder nie, hy is baie trots om die erfenis te huisves. Die houtvloer is intussen behandel teen die boorkewers en van die houtplanke word nou stuk-stuk vervang.
Dié gebou by Yorkstraat 37 word deur die George-erfenistrust beskerm, alhoewel die presiese ouderdom ongelukkig nie bepaal kan word nie, want munisipale rekords is slegs beskikbaar tot en met 1957.
Die vermoede bestaan egter dat die gebou die oorspronklike 1775 Posthuis van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie is, of dat die Posthuis destyds in dié omgewing aangetref is. Volgens die George-erfenistrust is die perseel waar die gebou tans staan 'n uiters sensitiewe historiese area.
Kyk 'n video hieronder.
Rye ysterhout wawielnawe is ingespan om die plankvloer te stut. Foto's: Michelle Pienaar
Die historiese gebou in Yorkstraat word tans as 'n motorhandelaar bedryf.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'