GEORGE NUUS - Die Pacaltsdorp-polisie het 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek geopen ná 'n 38-jarige man, Siyabulela Rueben Myakala, Sondagoggend, 1 Mei, in Rosedale-plakkerskamp doodgebrand het.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, is die polisie omstreeks 03:30 na die toneel uitgeroep. Met hul aankoms was die woning reeds deur die brand vernietig. Geen ander strukture is deur die brand beskadig nie.
"Die plaaslike brandweer en nooddienste was op die toneel. Met opruiming is daar op die verbrande liggaam afgekom," sê Pojie.
Die oorsaak van die brand moet nog bevestig word, maar volgens iemand wat in die omgewing woon, is dit hoogs waarskynlik deur 'n kers of 'n paraffienlamp veroorsaak.
'n Lid van die Deo Gloria-buurtwag in Rosedale, Kerneels Kaptol, sê die oorledene se familie het nie die finansiële vermoë om hom te laat begrawe nie.
Enigiemand wat bereid is om hulle by te staan kan Kaptol by 082 831 6299 skakel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'