Die grafsteen is afgebreek en lê 'n hele 'n ent ver van die Desai-graf af. Dit is die steen wat Desmond Desai graag in die Memoriamstraat-begraafplaas wil plaas met 'n gedenkplaat waarop die afgestorwe gesinslede se name aangebring sal word.
GEORGE NUUS - Die nagedagtenis aan persone wat in die Rosemoor-begraafplaas begrawe is, gaan heeltemal verlore, meen Desmond Desai, 'n nasaat van die afgestorwe Coovergi Desai, wat in 1958 daar begrawe is.
Desmond vra nou toestemming van die George-munisipaliteit om die Desai-grafsteen, wat vandale afgebreek en 'n hele ent ver van die graf af weggesleep het, te verplaas na die begraafplaas in Memoriamstraat (naby die stasie).
Hy wil dan 'n gedenkplaat daarop aanbring met die besonderhede van Coovergi Desai en sy gesinslede, wat ook in Rosemoor begrawe is.
Die meeste grafte in die Rosemoor-begraafplaas is onder 'n grasperk toegegroei. Enkele grafstene wat hier en daar nog staan en bo die gras uitsteek, is die enigste teken dat daar mense begrawe lê. Tydens die George Herald se besoek was die gras netjies gesny en het daar kinders vrolik nader gehardloop. Dit is hulle speelplek en ook 'n deurgang vir voetgangers. Daar ry selfs motors oor.
Desai, wat in die 70's in Rosemoor getroud is en hier gewoon het, is nou 'n Kapenaar en sê hy kan nie gereeld by die graf uitkom om dit te versorg nie.
"Deur die grafsteen na die Memoriam-straat-begraafplaas te skuif waar daar plek is en dit netjies omhein is, kan ek verseker dat daar 'n nagedagtenis van die Coovergi's behoue bly."
Hy het vroeg vanjaar sy versoek vir 'n plek in die Memoriamstraat-begraafplaas aan die munisipaliteit gerig, maar nog nie reaksie ontvang nie.
Die munisipaliteit se skakelafdeling sê die hervestiging van 'n grafsteen is 'n beleidsaangeleentheid wat deur die raad oorweeg moet word. "Mnr. Desai is dienooreenkomstig ingelig," sê Chantel Edwards-Klose, waarnemende kommunikasiehoof.
Volgens haar word slegs begraafplase wat nog in gebruik is, omhein. By Rosemoor word die gras op 'n gereelde basis gesny. Onderhoud van die individuele grafte is egter die verantwoordelikheid van die mense wat dit gekoop het.
Sy sê die raad het 'n werkbare plan aangevra vir die bekamping van onwettige vullisstorting en vandalisme. "Permanente sekuriteit is nie 'n effektiewe óf koste-effektiewe metode nie en heinings word herhaaldelik gesteel of gevandaliseer by ander begraafplase in George."
Sy versoek dat mense rommelstrooiery en vandalisme aanmeld by die wetstoepassingsafdeling by 044 801 6350 of 044 801 6300 (na ure).
Enkele grafstene wat bo die grasperk uitsteek, is die enigste teken dat hierdie 'n begraafplaas is. INLAS: Die grafsteen is afgebreek en lê 'n hele 'n ent ver van die Desai-graf af. Dit is die steen wat Desmond Desai graag in die Memoriamstraat-begraafplaas wil plaas met 'n gedenkplaat waarop die afgestorwe gesinslede se name aangebring sal word. Foto's: Alida de Beer
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'