GEORGE NUUS - Die groot belangstelling in die werksaamhede van 'n vorige elite deel van die weermag, die Recces is bewys toe 'n groot groep mense 'n boekbekendstelling daaroor bygewoon het.
Gapp Café in die Garden Route Mall was verlede Dinsdagaand, 5 April, volgepak toe die skrywer, Alexander Strachan se boek, 1 RECCE Volume 3 bekendgestel is.
Volgens BookScan, wat verkope oor die toonbank monitor, is dit tans die beste verkoper in Afrikaans. Volume 1 en 2 het reeds in onderskeidelik 2018 en 2020 verskyn.
Die gespreksleier tydens Dinsdagaand se geleentheid was Japie Gouws. Strachan was op sy dag self betrokke by die Recces en van die oud-Recces het ook Dinsdagaand se geleentheid bygewoon.
Dit is algemeen bekend dat boeke oor sogenaamde "Grensliteratuur" die afgelope paar jaar baie in gewildheid toegeneem het. Grensliteratuur is 'n verwysing na Suid-Afrika se militêre betrokkenheid in die ou Suidwes-Afrika en in Angola in veral die 80's.
Die Recces het aan hoogs gevaarlike operasies onder groot geheimhouding deelgeneem.
Strachan het tydens die bekendstelling 'n oorsig gegee van die totstandkoming van die Recces. Aanvanklik het hy nie geweet dat drie boeke geskryf sou word nie.
Strachan het ook vertel van die operasies waarby 1Recce betrokke was en dat dit oor die algemeen almal suksesvol was. Hy het Operasie Amazon, wat in volume 2 beskryf word, uitgesonder as een van die baie suksesvolle operasies. Hy het ook staaltjies oor humor van die Recces gedeel.
Volgens Strachan is alles in die boeke die waarheid. Selfs die grappe is die waarheid. Die boeke is in die vorm van fiksie geskryf en dit vertel 'n storie. Dis nie soos 'n skoolgeskiedenisboek nie. Dis 'n verhaal. Dit begin, dit ontwikkel en het 'n einde.
Vir volume 3 is meer as 87 onderhoude gevoer. Baie daarvan was deur die internet. Om onderhoude op band te neem en te transkribeer sou baie lank geneem het.
Die inligting is versamel en daarna deur verskeie mense geverifieer. Hy het die materiaal voor hom gehad en hy moes dit net orden. Hy het staatgemaak op sy kennis as fiksieskrywer om dit te laat klink soos fiksie. Dis soos 'n verhaal en nie 'n stuk dooie geskiedenis nie.
Strachan het gesê die vraag na sulke soort boeke bly konstant en het nie afgeneem nie. Daar is mense wat die tipe boeke versamel. Hy het ook agtergekom daar is seuns wat dit vir hul pa's koop en dan self lees.
Japie Gouws, gespreksleier en Alexander Strachan, skrywer van die boek.
Foto: Eben Pienaar van NB-Uitgewers
Op die oomblik word 'n sogenaamde "Spesmagte biblioteek" gevestig. Dit sal 'n digitale biblioteek wees. Hy dra nie kennis wie almal toegang daartoe gaan hê nie.
Volgens hom kom die oud-Recces nog gereeld bymekaar. Die manne het nooit kontak met mekaar verloor nie en het vriende geword. Dis vriendskappe wat nie sommer maklik gebreek sal word nie.
Die terugvoering wat hy oor die boek ontvang is positief.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'