GEORGE - Mnr. Gideon de Swardt (73) van George roep kosbare herinneringe op uit sy jeug elke keer wanneer hy verby ‘n vervalle klein geboutjie op ‘n plaas in die Geelhoutboom-omgewing ry.
Dit is die Palmiet Skool waar hy skoolgegaan het in ‘n era toe die kweperlat nog ingespan is. Mnr. Jim Heunis was die enigste onderwyser wat 32 leerders van sub A tot st 6 - almal in een klas - moes opvoed en leer.
Die geboutjie is in 1939 opgerig.
De Swardt vertel allerhande staaltjies oor sy sorgvrye skooldae. "Mnr. Heunis se kweperlat wat altyd op sy lessenaar gelê het, het gesorg dat daar nooit ‘n druipeling was nie. En elke oggend moes ons in ‘n ry staan en eers ‘n lepel visolie drink voor die skooldag begin. Dit was verskriklik!
"Ons het in die veldjie aan die voorkant krieket en sokker geoefen. Eendag het ek per ongeluk ‘n krieketbal deur die venster geslaan. Benewens ‘n pak slae wat ek my op die hals gehaal het, moes ek ‘n hele ruk in my ouma se tuin werk om die onkoste van die herstel van die venster aan my ma terug te betaal," lag hy.
Hy resiteer sowaar nog van die rympies wat hulle destyds geleer het.
Die boere van die omgewing het ook kerkdienste in die skooltjie bygewoon. Aanddienste is by die lig van lanterns gehou. Tydens ‘n besoek van die George Herald aan die skooltjie saam met mnr. De Swardt het ons mev. Katriena Klaassen ontmoet wat tans daar woon.
Die twee het herinneringe uit vervloë se dae gedeel. Klaassen het op plase in dieselfde omgewing as De Swardt grootgeword.
Haar pa, wyle mnr. Willem Veldman het nog met osse hout uit die plantasies in daardie omgewing gesleep. "Ek was my pa se spanleiertjie as kind," vertel sy.
Nog ou geboue
Mnr. John Muller, die eienaar van die plaas waar die Palmiet Skool staan, het by navraag gesê hy het die plek 25 jaar terug gekoop. Op sy uitnodiging het die George Herald nog ou geboue op sy plaas besigtig.
Toe hulle hierheen getrek het, het hulle die hele oorspronklike plaasopstal en waenhuis behou (die dik mure en balke in die plafonne getuig hiervan). Daar is net aangebou.
Die waenhuis is omskep in ‘n klein kothuis.
‘n Entjie van die plaasopstal af staan nog ‘n geboutjie wat blykbaar ook as ‘n skooltjie aangewend is nog voordat die Palmiet Skool in gebruik geneem is. Dit is egter ook in ‘n vervalle toestand.
Hoewel die behoud van die geboue vir hom belangrik is, kan hy nie die onkoste aangaan om dit behoorlik op te knap nie, het Muller gesê.
Persone wat moontlik ook oud-leerlinge van hierdie twee skooltjies was of wat herinneringe kan oproep oor vervloë dae in daardie omgewing, kan vir De Swardt skakel by 083 628 4023.
Artikel: Alida de Beer
Hierdie geboutjie was blykbaar reeds voor die Palmiet Skool in gebruik.