Update
GEORGE NUUS - Franken Primêr, wat onlangs in die nuus was oor hulle skoolbusse op privaat grond geparkeer het, het gereageer op vrae van die eienaar van die plaas Herold Meander, Theo Adams.
In 'n berig in die George Herald verlede week het die skoolhoof, Moses Carolus, sy skok oor 'n prokureursbrief van Adams se regsverteenwoordiger uitspreek.
Volgens Carolus was hulle nie seker wat hulle moes doen of hoe hulle moes reageer op die skrywe van Johannes Jumat, Adams se regsverteenwoordiger nie. Daar moes eers 'n vergadering met die skoolbeheerliggaam (SBL) gehou word voor hy enige van die vrae kon beantwoord.
Jumat se skrywe op 14 Maart 2019 verwys na die skoolbusse wat op Herold Meander geparkeer word, 'n kragkabel wat bo-oor Adams se grond loop en 'n muur wat glo gedeeltelik op sy grond gebou is.
Carolus het vandeesweek gesê dat die kragkabel wat bo-op die grond loop afgeskakel is. "Die krag is afgeskakel soos versoek en geen elektrisiteit word vanaf die skool aan naburige huise verskaf nie." Hy sê hulle kan ongelukkig nie die kabel verwyder nie, omdat dit aan die kerk behoort.
Verder sê Carolus die busse parkeer al 40 jaar op die grond langs die skool, maar hulle het Adams se versoek dat die busse vanaf 1 April op 'n ander plek parkeer, so aanvaar. "Die busse parkeer nou oorkant die pad wat voor die skool verbyloop."
Rakende die muur wat glo gedeeltelik op Adams se grond gebou is, en wat volgens hom 10 cm oor die grens is, sê Carolus kon die kontrakteur nie hoekpenne vind nie. "Die muur is in lyn met die bestaande draadheining."
Vir Carolus en die SBL het die prokureursbrief soos 'n aanval gevoel, maar volgens Jumat was dit net vrae om antwoorde op ou onopgeloste kwessies te kry.
Jumat sê hul skrywe is 'n paar dae voor die skool gesluit het afgelewer en weet hy nie hoekom Carolus sê hy is uit die veld geslaan nie. "Hy is lank reeds bewus van ons kliënt se planne."
Moontlike oplossings is reeds tydens 'n vergadering op 6 Augustus 2018 bespreek soos dat die busse by die polisiestasie parkeer. "Indien die skool voortaan op ons kliënt se grond parkeer sal daar eers 'n huurkontrak gesluit moet word." Ook sê Jumat sy kliënt wil nie die skool koop nie, die Wes-Kaapse onderwysdepartement het eerste opsie. Hy sê Adams stel wel voor dat die skole op Herold saamsmelt om sodanig die staatsbronne beter aan te wend.
Lees 'n vorige artikel: Busse nou verbied om by skool te parkeer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'