GEORGE NUUS - Tydens 'n onlangse spesiale saalbyeenkoms het Hoërskool Outeniqua 'n eretoekenning aan 'n oudleerder, prof. Matilda Burden, gemaak. Burden is die jongste dogter van die legendariese tannie Greta Gericke, wat onlangs kort na haar 100ste verjaarsdag oorlede is.
Die toekenning is gemaak uit erkenning vir die leidende rol wat Burden op die gebied van Kultuurgeskiedenis in ons land en internasionaal speel.
Sy is tans senior navorser in Kultuurgeskiedenis by die Stellenbosch Universiteitsmuseum en buitengewone professor in Kultuurgeskiedenis aan die Departement Geskiedenis: Noordwes Universiteit, Potchefstroom. Sy deel haar kundigheid deur as studieleier en promotor vir verskeie MA- en doktorale studente aan die US en NWU op te tree.
Familie
Professor Burden se drie broers (Stephan, Buks en Bremer Gericke), twee susters (Karen Temmingh en Elisabeth Potgieter), haar seun Marinus en peetkind Greta Potgieter het die toekenningsgeleentheid as gaste bygewoon. Al die Gericke kinders is oud-Kwaggas en die Gericke-familie het 'n lang en lojale verbintenis met Hoërskool Outeniqua.
Tydens haar repliek het Burden hulde gebring aan haar ouers en gesin. Sy het verwys na haar gelukkige skooldae, die indruk wat haar geskiedenisonderwysers op haar loopbaankeuse gehad het en die belangrikheid van kultuurgeskiedenis in die verstaan van en respek vir kultuurverskeidenheid in ons land. Sy is staande toegejuig deur 'n stampvol saal Kwaggas.
Burden het 'n staande ovasie van die Kwaggas ontvang ná haar repliek.
Haar besoek is afgesluit met 'n boomplantseremonie, waarna sy die skoolterrein verken het. Burden en haar eggenoot, Hugo, woon in Stellenbosch.
Kundig
Verskeie publikasies, waaronder vakartikels en boeke, het uit haar pen gevloei. Sy het reeds 60 referate by nasionale en internasionale vakkongresse gelewer. Sy is betrokke by groot kultuurhistoriese uitstallings, die aanbied van kort kursusse oor kultuurhistoriese onderwerpe en sy hanteer die ontwerp en inrigting van verskeie nuwe museums.
Haar kundigheid is van groot waarde in die komitees of rade van talle verenigings en organisasies wat verband hou met kultuur en erfenis, waarop sy dien. Tans is sy onder meer raadslid van die Genealogiese Instituut van Suid-Afrika (ondervoorsitter), die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kultuurgeskiedenis (voorsitter), en sy is in 2016 verkies tot visepresident van die International Folksong Society.
Burden het ook 'n boom op die skoolterrein geplant. By haar is die skoolhoof, Christo Vorster.
Die Gericke-sibbe wat die geleentheid bygewoon het, is almal oud-Kwaggas. Van links: Buks Gericke, Elisabeth Potgieter, Karen Temmingh, Stephan Gericke, Matilda Burden en Bremer Gericke.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'