Volgens Henry Jones, die wyksraadslid, was daar voorheen dwelm- en bende-bedrywighede op die skoolterrein.
"Die blote teenwoordigheid van die veiligheidsbeamptes dra by dat daar deesdae weinig sulke aktiwiteite plaasvind," het Jones gesê.
"Die beamptes kyk ook dat leerders nie ronddrentel en die skool sonder rede verlaat nie. Daar heers 'n goeie verhouding tussen die beamptes, die onderwysers en die beheerliggaam van die skool."
Die beamptes is heeldag op die skoolterrein en hul salarisse word vanuit die R100 000 betaal wat jaarliks aan elke wyk toegeken word. Hulle het ook onlangs veiligheidsklere ontvang wat uit hierdie fonds betaal is.
Elke wyk in George ontvang jaarliks 'n begroting van R100 000 waarmee die wyksraadslid en wykskomitee projekte kan loods wat 'n verskil sal maak. Jones gebruik ´n gedeelte van die wyk se fondse vir die huidige finansiële jaar om 'n veiliger skoolomgewing by Hoërskool Pacaltsdorp te verseker, het Debra Sauer, assistent mediaskakelbeampte van George-munisipaliteit, gesê.
"Die raadslid en sy wykskomitee besluit oor die aanwending van die geld nadat breedvoerige terugvoering uit die gemeenskap verkry is. Indien die nood by die skool is, word die geld daar aangewend. Die skool is deel van die wyk en die gemeenskap," het Sauer bevestig.

Neville Raubenheimer (tweede van links), hoof van Hoërskool Pacaltsdorp, ontvang spesiale klere vir die skool se veiligheidsbeamptes tydens 'n amptelike oorhandiging deur wyksraadslid Henry Jones (middel). Die veiligheidsbeamptes is Sarah Yazo (links), Charlie Daman (regs), en Eglowh Johnson (agter, regs). Jonaide Williams was afwesig. Links agter is Duppie du Preez, Bestuurder: Projekte van George-munisipaliteit.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'