GEORGE NUUS - Ouers in Rosedale, wie se kinders per bus skool toe vervoer word, moet meer opdok vandat 'n nuwe busvervoerkontrakteur aangestel is.
Dit is veral vir ouers wat meer as een kind het, 'n groot hap uit hul maandelikse begroting, sê Clara Afrika, 'n enkelouer met twee kinders by Pacaltsdorp Primêr.
Sy was hewig ontsteld toe een van haar kinders (12) verlede Donderdag nie by die skool opgetel is nie. Dit was nadat sy die busfooie nie volledig kon vereffen nie.
"Ek het 'n reëling met die skool getref om die fooie op die 25ste volledig op datum te bring en is die versekering gegee dat my kinders opgelaai sou word. Dit was vir my 'n groot skok toe ek hoor dat my kind nie opgelaai is nie. Die paaie is uiters gevaarlik en ek wil nie hê dat my kinders moet loop nie. Ek was by die werk en moes vir die bus wag om huis toe te ry. Toe ek tuiskom, was my kinders reeds daar."
Volgens Afrika is kinders met die vorige operateur gratis vervoer. Die koste is tans R200 per kind per maand.
"Sommige maande wanneer daar onverwagte ander uitgawes is, is dit baie moeilik om die vervoer vir twee kinders ook by te bring. Baie ouers is in dieselfde bootjie as ek," sê Afrika.
Bronagh Hammond van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het by navraag gesê die departement is besig om aandag aan die saak te gee.
"Die WKOD verskaf 'n subsidie vir skoolvervoer aan die skool. Die vorige diensverskaffer het sy dienste gestaak en die skool het 'n nuwe vervoerdiens gesoek. Gegewe die stygende koste van vervoer, kon die subsidie nie die koste van die nuwe diensverskaffer dek nie, hoewel die departement probeer het om een te vind wat die diens binne dieselfde begroting kon lewer."
Volgens Hammond het die kringbestuurder na aanleiding van die klagte die skoolbestuur aangespreek en die skool aangesê om te sorg dat alle leerders vervoer word.
"Die Distrik (distrikskantoor) het 'n dringende versoek gerig vir 'n nuwe roete om hier ingestel te word as deel van ons skoliervervoerskema. In so 'n geval sal 'n subsidie nie aan die skool betaal word nie, maar sal die departement die diensverskaffer kontrakteer. Dit sal beteken dat kinders wat kwalifiseer, gratis vervoer sal ontvang."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'