GEORGE NUUS - Onwettige kragaansluitings, straatligte wat 'n week lank brand en wispelturige kragonderbrekings teister die gemeenskap van Pacaltsdorp. Dis 'n frustrasie vir diegene wat daarmee moet saamleef.
Waarnemende direkteur elektrotegniese dienste, Kobus Wilken, het by navraag oor die kwessies uitgebrei en perspektief verleen. Dit is so duidelik soos daglig dat kragdiefstal 'n enorme probleem is.
"Kragsteel in die Moeggeploeg-gebied [informele nedersetting in Seaview, Pacaltsdorp], en regoor die munisipale area, word gemonitor en kragdrade word gereeld verwyder, maar word dikwels weer net so vinnig deur die oortreders vervang," het Wilkens gesê.
"In meeste van hierdie gebiede is die inwoners aggressief wanneer drade verwyder word en elektrisiëns moet deur polisie of wetstoepassing vergesel word wanneer die beamptes daarvoor beskikbaar is."
Lappe oor fotoselle
Wilkens het gesê die munisipaliteit is bewus van heelwat verwante misdade soos ondergrondse lyne en die gooi van lappe oor straatligte se fotoselle: "Laasgenoemde veroorsaak dat straatligte dan nie outomaties afskakel wanneer dit lig word nie omdat die lap oor die sensor dit steeds as nag interpreteer. Mense koppel dan hulle krag onwettig van die straatligte af wat dan deur die dag aanbly."
Inwoners van Moeggeploeg vind allerlei maniere om krag onwettig na hul plakkershutte te gelei.
Ondersoek na kragmeesters
George Herald het onlangs 'n klagte ontvang dat die munisipaliteit traag is om oortreders te vervolg. Wilkens se kommentaar hierop is as volg: "Die ondergrondse lyne word wel na huise toe gevolg en die oortreders vervolg, maar baie van hierdie huishoudings word uitgebuit deur 'n groter speler wat die krag aan mense 'verkoop' - daar is 'n groter ondersoek aan die gang om hierdie 'meesters' agter kragstelery te vang."
"Die munisipaliteit verstaan die klaer se frustrasie, maar is ook bewus daarvan dat die gemeenskap meestal weet wie die oortreders is, maar nie bereid is om met name na vore te kom nie."
Help die owerheid só
Bewyse van kragstelery - soos identifiseerbare foto's van mense wat kragdrade aanlê, teen kragpale opklim en lappe oor fotoselle gooi, kan anoniem vir die munisipaliteit gestuur word na Ennqumse@george.gov.za.
Dit is egter beter indien persone gewillig is om na vore te kom om in die hof te getuig.
- Rapporteer kragstelery by 044 803 9222 of 044 874 3917 of na-ure by 044 801 6300.
- Rapporteer ligte wat brand by 044 803 9202 of 044 803 9258 of na-ure by 044 801 6300.
Onwettige kragaansluitings kom regoor die munisipale area voor. Hierdie foto is aan die begin van Januarie in die informele nedersetting Moeggeploeg, in Seaview, Pacaltsdorp, geneem.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'