GEORGE NUUS - Die George Erfenistrust is van voorneme om 'n vergadering met die Tuinroete-distriksmunisipaliteit te reël waar daar oor die Montagupas se toekoms gepraat gaan word. Dit is 'n uitvloeisel van 'n geleentheid wat op 21 Oktober in Herold plaasgevind het.
Die geleentheid is deur die Stigting Simon van der Stel: Suid-Kaap en Natie de Swardt gereël. Dit is deur sowat 45 belanghebbendes bygewoon.
Daar is die afgelope tyd talle vrae oor die toekoms van die pas gevra en daar is selfs kommer uitgespreek oor die swak toestand want dis is 'n baie groot toeriste-trekpleister. Die plaaslike ekonomie van Herold word ook geraak.
Die plan was om tydens die geleentheid 'n besoek aan die bopunt van die pas te bring, maar dit moes ongelukkig afgestel word as gevolg van reën. Ds. Gert Nothnagel, leraar van die plaaslike NG gemeente het die verwelkoming gedoen.
Theo Adams was die gasheer tydens die geleentheid. Hy het 'n aanbieding gedoen oor Herold Meander met die fokus op die geskiedkundige geboue en die opgradering daarvan, asook die permitte wat as goedkeuring uitgereik is.
Dr. Natie de Swardt van die Stigting Simon van der Stel: Suid-Kaap tydens die geleentheid
Een van die ander sprekers was dr. Esme Spicer, 'n geoloog. Sy het 'n aanbieding gedoen oor die geologie van die gebied. De Swardt het gepraat oor die geskiedenis van die gebied.
Rudi Beukes het gepraat oor paaie en onder meer verwys na paaie voor die Romeinse Ryk.
Gerrit Brits, 'n plaaslike inwoner het gepraat oor die belang van die pas vir die plaaslike gemeenskap.
Adams het Dinsdag 31 Oktober gesê die geleentheid was 'n sukses. Nieteenstaande die reën het verskeie mense opgedaag.
Willie-John van Niekerk, voorsitter van die George Erfenistrust, het bevestig dat die plan is om 'n vergadering met die distriksmunisipaliteit te reël.
Hy het sy dank teenoor die Stigting Simon van der Stel, De Swardt en Adams uitgespreek vir hulle rol in die geleentheid.
De Swardt het gesê Stigting Simon van der Stel en die George Erfenistrust is in voortdurende kontak deur Erfenis Wes-Kaap met die provinsiale paaie departement. "Daar is oop kanale en onderlinge begrip."
Hy het gesê dit was 'n positiewe geleentheid en 'n baie groot sukses.
Aanwesiges by die geleentheid.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’