Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Daar was 'n tyd, nie so lank gelede nie, toe Oudtshoorn se stadsvaders moes baklei om kop bo water te hou.
Nou, sowat vyf jaar later, het die einste plaaslike owerheid in 'n studie van Ratings Afrika* erkenning gekry vir die munisipaliteit wat landswyd die grootste verbetering tussen 2016 en 2020 getoon het.
'n Man wat 'n kernrol in die ommeswaai gespeel het, is George-munisipaliteit se huidige direkteur van gemeenskapsdienste, Allan Paulse.
Paulse onthou nog goed die oproep van minister Anton Bredell aan die einde van 2015 wat sy lewe vir die volgende twaalf maande sou verander. George Herald het in 'n onderhoud vandeesweek met Paulse gesels oor dié tyd in sy lewe en die wenresep vir goeie dorpsbestuur.
"Op daardie stadium was ek die munisipale bestuurder van Bitou. Bredell wou hê ek en die hoof van finansies, Felix Lotter, moet drie dae 'n week in Oudtshoorn deurbring om die dorp van bankrotskap te red," het Paulse gesê. "Dit was 'n groot uitdaging. Die dorp was R110 miljoen in die rooi, en het boonop nog 'n
R55 miljoen vir Eskom geskuld. Daar was 'n stadium toe die balju beslag wou lê op die burgemeestersketting en 'n brandweerwa. Gelukkig kon ons 'n ooreenkoms bereik."
Kyk 'n video hieronder:
Volgens Paulse kon hulle die dorp van 'n sinkende skip na 'n geoliede masjien verander deur basiese sakebeginsels toe te pas.
"Eers doen 'n mens 'n analise van die situasie, en dan bestuur jy dit soos 'n besigheid. Ons moes die uitgawes beperk tot die absolute noodsaaklike verpligtinge, soos elektrisiteit, belasting en pensioenfondse. Elke Sondag het ek en Felix gesit en besluit wat ons daardie week moet aankoop. Op die ou end besluit 'n mens op iets soos toiletpapier, vir die werkers se moraal, en ink vir die drukkers."
"Dit is geweldig belangrik om van droë hout ontslae te raak en die regte bestuurders aan te stel wat help om die regte werkkultuur te skep," het Paulse gesê. "Daar was geen magic nie. Dit is net harde werk en basiese besigheidsbeginsels. Jy moet beplan, werk met wat tot jou beskikking is en dit doeltreffend aanwend."
• Die ander drie munisipaliteite wat erkenning ontvang het sluit in Theewaterskloof, Cape Agulhas en Midvaal (Meyerton).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'