GEORGE NUUS - Die lywige klagstaat van bedrog en diefstal teen die voormalige George-raadslid Henry Jones, is Maandag in die George-streekhof voorgelees.
Jones, voorheen 'n portefeuljeraadslid vir behuising, pleit onskuldig op 11 aanklagte van bedrog en 'n klag van diefstal.
Die aanklagte spruit voort uit beweerde behuisingsbedrog met die onwettige verkoop van gesubsidieerde plotte en HOP-huise in Rosedale (Oktober 2014 tot Junie 2015) wat hom as die destydse raadslid betrek. Ofskoon die streekhof vir die hele week bespreek was om die saak aan te hoor, het Jones se gesondheid verrigtinge vertraag. Jones se regsverteenwoordiger, Kerneels Meyer van Johan Weideman Prokureurs, het Dinsdag 'n siekbrief by die George-streekhof ingedien. Jones was nie self by die hof nie en sal weens mediese redes eers Maandag 7 Oktober weer in die hof verskyn.
Volgens Meyer, sien sy kliënt nog spesialiste vandag, 3 Oktober.
"Hy is 'n diabeet, gediagnoseer met kolonkanker en het ook 'n hartkwaal," het Meyer gesê. Die hof het versoek dat 'n verslag met die aard van sy siektetoestand teen môre, 4 Oktober ingedien word, om te bepaal wanneer die saak weer kan voortgaan. "Indien dit die spesialis se mening is dat Jones 'n lang tyd af gaan wees, moet daar 'n omvattende verslag ingedien word," het Meyer gesê.
Diefstal as alternatief
By vyf van die 11 aanklagte van bedrog is diefstal as 'n alternatiewe klag gelys.
Dit beteken indien die staat nie genoegsaam kan bewys dat bedrog plaasgevind het nie, Jones steeds vir diefstal aangekla kan word. Op die laaste aanklag van bedrog wat Maandag uitgelees is, is Jones deur die hof daarop gewys dat indien hy op daardie aanklag skuldig bevind word, die hof verplig is om 'n minimum vonnis van 15 jaar direkte gevangenisstraf vir 'n eerste oortreder op te lê, en slegs van die riglyn mag afwyk met voldoende bewyse vir versagtende omstandighede.
In dié aanklag word Jones daarvan beskuldig dat hy tussen Oktober 2014 en Junie 2015 munisipale hulpbronne misbruik het en sy posisie as raadslid gebruik het om die publiek te mislei deur die verkoop van HOP-huise, met 'n potensiële verlies van R400 000 vir George-munisipaliteit.
Landdros Praglathan Govender hoor die saak aan en adv. Xolile Jonas is die staatsaanklaer.
Jones is in Oktober 2015 van alle DA-aktiwiteite geskors hangende 'n ondersoek oor beweerde bedrog. James Selfe, voorsitter van die DA se federale uitvoerende kommissie (Fedex), het destyds gesê dit was in hierdie spesifieke saak bitter moeilik om die getuies in die hande te kry.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'