GEORGE NUUS - 'n Geskil tussen dronk mense het daartoe gelei dat 'n 3-jarige seuntjie brandwonde in sy gesig opgedoen het.
Adrihano Lourens het saam met sy ma op die bed in hul huis op Syferfontein gesit, toe 'n man 'n bottel met suur in die huis gegooi het. Caroline Lourens sê die bottel het met die impak gebars en die suur het haar kind in die gesig gebrand.
Die voorval het aan die einde van Augustus gebeur.
Vernon Peacock van die Syferfontein-gemeenskap sê sulke voorvalle kan vermy word en hy, Matthew Mazeleni en Griet Baardman van die gemeenskapleiers, wou agter die kap van die byl kom.
Awie Arends, Adrihano se pa, vertel hy en vriende het rondom 'n vuur gesit en kuier toe twee jong mans kom moeilikheid soek het. Een het gate in sy huis gekap en die ander het die suur gegooi. Peacock sê 'n 17-jarige is gearresteer.
Die beskuldigde het glo aan sy ma erken dat hy daar was, maar sê hy het nie die suur gegooi nie. Hy het glo net gate in die huis gekap. Peacock sê weer volgens ooggetuies was hy wel die skuldige een.
Die gemeenskap leef baie nou saam, vertel die leiers, en hulle wil graag vrede in hul klein gemeenskap hê. Hulle sal ook graag meer gereeld saam met die polisie wil werk en vra vir gereelde patrollering, veral oor naweke.
Kapt. Malcom Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder sê die Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Oortredings Eenheid ondersoek 'n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer na aanleiding van die voorval. Pojie sê 'n 17-jarige seun is in verband met die voorval gearresteer. "Hy het reeds in die George-landdroshof verskyn en is in die sorg van sy moeder vrygelaat."
Hy sê verder die ondersoek duur voort met nog onderhoude en verklarings wat verkry word van die seuns wat teenwoordig was en geïmpliseer word. Die omstandighede, in welke geval dit 'n ongeluk was en of per abuis, word ondersoek.
Nog arrestasies is nie uitgesluit nie.
Vernon Peacock en Matthew Mazeleni van die Syferfontein-gemeenskap se leierskap. Hulle wil werk vir vrede in hul gemeenskap.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'