GEORGE NUUS - Luhan Smit (10) van George, wat verlede jaar in die feestyd 'n voorbeeld vir die gemeenskap gestel het oor hoe om 'n positiewe impak te maak, doen dit weer.
Hy het die week weer begin om geld en kos in te samel vir Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) in Blanco.
Hy doen dit terwyl die Kersliggies by sy ouerhuis in Ribbokstraat brand. Omdat die tyd vanjaar korter is, doen hy dit net vir Odin.
Besoekers kan donasies maak en ook sakke kos vir vierpotige vriende skenk. In Januarie vanjaar kon hy altesaam 1,4 ton kos aan Odin en die DBV skenk. Die mikpunt was 1 ton kos, maar hy kon uiteindelik 1,4 ton kos oorhandig. Mense wat na die liggies in die straat gaan kyk het, was nie verplig om 'n bydrae te maak nie, alles was vrywillig.
Luhan is baie lief vir diere. Die familie het self honde. Luhan se pa, Kobus, het sedert 2007 die liggies begin opsit. Luhan het in Desember 2021 begin met sy projek.
Toe mense in Desember opgedaag het, het hy gevra of hulle 'n lekkertjie wil hê.
Hy het dan die mense gevra of hulle nie bereid is om 'n donasie te maak nie, al is dit 10 sent.
Hy het geglo elke bietjie help en dit hoef nie geld te wees nie.
Luhan se ma, Belinda, het Maandag 19 Desember gesê mense is welkom om gelddonasies en kos te skenk. Met die geld sal kos vir die diere gekoop word. Benewens kos en donasies kan mense ook komberse skenk. Dit sal ook by Odin afgelewer word.
Al is dit beurtkrag en die liggies brand nie, is mense steeds welkom om 'n draai te maak en die kos af te gee. Luhan sal dit ontvang.
Volgens Belinda het Luhan 'n omgeehart. Hy wil 'n verskil maak.
Die plan is om met die projek aan te hou tot 31 Desember. Die donasies en kos sal vroeg in Januarie aan Odin oorhandig word.
Van die Kersfeesliggies vanjaar by Luhan Smit se ouerhuis in Ribbokstraat.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'