GEORGE NUUS - Die seun (15) van Pacaltsdorp, wat sy regterhand op Woensdag 1 September tydens 'n bakleiery in Pacaltsdorp verloor het, is steeds in die Grootte Schuur-hospitaal in die Kaap. Sy hand kon egter nie gered word nie.
"Die skade aan die hand was te groot en die aanhegting was ongelukkig onsuksesvol," het Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie by navraag gesê.
Die seun sal binnekort weer na George oorgeplaas word. Twee ander slagoffers, waarvan een in die long gesteek is en die ander 'n ernstige kopwond opgedoen het, is reeds uit die hospitaal ontslaan.
"Twee 16-jariges is in verband met die voorval aangekeer. Hulle is nie in aanhouding nie, maar 'n waarskuwings-verklaring is uitgereik. Sodra hulle assessering voltooi is, sal hulle in die plaaslike landdroshof verskyn. Die voorval word nog ondersoek en verskeie verklarings rondom die omstandighede daarvan moet nog bekom word," het Pojie gesê.
Die Pacaltsdorp-polisie het drie sake van ernstige aanranding geopen ná die beweerde bendeverwante-voorval tussen twee groepe jongmense. Die voorval het omstreeks 15:00 in die bosse langs Memoirlaan plaasgevind. Volgens Pojie, blyk dit dat 'n rooftog wat vroeër die dag plaasgevind het, die motief kan wees.
Inligting wat deur George Herald bekom is dui daarop dat een van die seun se vriende met 'n kapmes oor die kop geslaan is, waarna die seun probeer intree het en sy hand afgekap is.
"Daar word beweer dat hulle verskil-lende stomp en skerp voorwerpe gebruik het om teen mekaar te baklei. Twee jongmense van die een groep en 'n ander van die opponerende groep (almal ongeveer 15 jaar oud) het ernstige beserings opgedoen. Een is met 'n panga teen sy kop geslaan, 'n ander een het sy hand verloor en die derde een is in sy longe gesteek," het Pojie gesê.
Gemeenskapsleiers en inwoners het op Sondag 5 September by Pacaltsdorp Primêr vergader om die huidige misdaadsituasie in die gebied aan te spreek.
Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om die ondersoek-beampte, ao. William van Schalkwyk, by 044 803 9100 of by 079 894 1589, te skakel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'