GEORGE NUUS - Die trane en wanhoop van 'n jong seun van Borcherds wie se geliefde hond, Roché, Maandag 22 Augustus van kant gemaak moes word nadat sy deur Amerikaanse veghonde aangeval is, het vandeesweek 'n oorweldigende reaksie op Facebook ontketen.
Verskeie diereliefhebbers het hulle frustrasie oor onverantwoordelike honde-eienaars uitgespreek, en terselfdertyd aangebied om die seun deur middel van skenkings te help.
Ei-Lermo Erasmus (14) was te voet met die driejarige Roché onderweg na die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging (DBV) in Ossie Urbanweg, George Industria, toe die aanval plaasgevind het.
Hy en 'n groepie van sy vriende besoek die DBV gereeld om hul honde te laat dip en om kos vir hul diere te gaan haal.
Volgens Chanté Killian, 'n veeartsassistent, het die veghonde saam met hul eienaars gestap, maar was nie aan leibande nie.
Gerda Reynders, inspekteur en opvoedingsbestuurder van die DBV, het haar skok oor die voorval uitgespreek en gesê hulle is op soek na die eienaars van die veghonde, wat direk na die voorval gevlug het.
Kort na die aanval bekend geword het, het diereliefhebbers op Facebook uitgevaar teen die veghonde se eienaars en hulle sorg oor die seun se verlies uitgespreek. Talle goedhartige Georgiete was ook bereid om donasies te maak.
Leonie du Venage, een van die simpatieke mense wat op die DBV se Facebook-blad kommentaar gelewer het, het 'n hondehok vir Ei-Lermo geborg. Sy het geskryf, "Dis die oulikste seuntjie ooit en die hond was so mooi versorg."
Die seun is ook Dinsdag geprys daarvoor dat hy net 'n dag na die aanval sy hond se ma, Queen, na die DBV geneem het vir sterilisasie.
Reynders sê dat kinders soos Ei-Lermo baie baat by die vereniging se uitreikprogram in behoeftige gemeenskappe.
Enige persoon wat hulp wil aanbied, kan die DBV bel by 044 878 1990.
Die voorval het Ei-Lermo in trane gelaat.
Ei-Lermo versorg sy honde goed.
ARTIKEL: BRUMILDA SWARTBOOI
FOTO'S: TUINROETE DBV
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'