GEORGE NUUS - Seeplaas op Groot-Brakrivier, 'n pragtige restaurant met sy ongelooflike uitsig oor die see, het verlede Donderdag 5 September sy deure wyd oopgemaak vir die Fynproewers en hulle gaste. By hul aankoms is gaste bederf met geurige koffie en ‘n ietsie soets.
Die tafels, keurig versier met oranje clivias en pienk rose, het die lente feestelik na binne genooi. Dit was teen hierdie agtergrond dat sjef Julien van Niekerk die dames, en ‘n paar here, Thai-fusie met Flair laat beleef het.
Die demonstrasie is begin met Thaise viskoekies met avokado- en mango-salsa. Die salsa het die viskoekies goed gekomplementeer. Dit is opgevolg met die krapperige 5-speserye varkvleis met Asiatiese slaai en balsamiese gemarineerde aarbeie en heuning-soja-reduksie.
Daarna is ‘n verfrissende suurlemoengras en gemmer sorbet-paletreiniger bedien. Die geurige Thai groen hoenderkerrie was ‘n groot gunsteling.
Die demonstrasie is afgesluit met ’n aanskoulike nagereg, koffie- en room-agar-jellie.
Juan Koen het die wynpasproe aangebied. Kleine Rust Chenin Blanc Sauvignon Blanc (2019), Stellenrust Chenin Blanc (2019), Stellenrust Chardonnay (2017) en Stellenrust Cinsaut (2017) was uitstekende pasmaats by hierdie geregte.
Die lede en gaste was glad nie haastig om huiswaarts te keer na hierdie heerlike kuiergeleentheid by Seeplaas nie. Voorwaar ‘n hoogtepunt in die gildejaar!
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'