GEORGE NUUS - "Sonder om twee keer te dink sou hy sy laaste bietjie gee om ander te help. Hy was 'n ikoon, 'n regte staatmaker wat altyd geglimlag en 'n grappie gehad het, hetsy dit goed of sleg gaan."
Só sal die George-gemeenskap vir Sandor Ian Haddad, alombekend as Sandy, onthou, nadat hy verlede Maandag, 9 November, in die ouderdom van 71 na 'n maandlange siekbed oorlede is.
Die gemeenskap en veral die landbou-gemeenskap, is geruk na die nuus van sy skielike heengaan. Medelye stroom steeds in sedert sy dood.
Sandy het die onderneming, S Haddad Landboudienste, in 1975 in George se industriële area gestig en sedertdien was sy lewe met die plaaslike boeregemeenskap verweef.
Sy kennis van die landbou-meganisasiebedryf is regoor die land gerespekteer, en het hy graag sy kennis oor alle aspekte van die bedryf, van eenvoudige herstelwerk of aanpassings van trekkers en werktuie, tot grondvoorbereiding en gewaskeuse met boere en handelaars wat aan sy deur kom klop het, gedeel.
Hy het ook altyd opkomende boere gehelp om hul voete te vind en plaaslike gemeenskappe gehelp deur grondvoorbereidingswerk te doen en deur hulle leiding en opleiding in landboumeganisasie te gee.
Oor die jare het Sandy, deur middel van sy maatskappy, ook trekkers geskenk (en onderhou) aan organisasies wat die gemeenskap bedien, soos die Nasionale Seereddingsinstituut van Suid-Afrika, die Tuinroete Botaniese Tuin, die plaaslike George-perdryklub en die boerderygemeenskap van Pacaltsdorp.
Hy het sy stempel oral afgedruk en los 'n massiewe leemte in die plaaslike landboubedryf.
Sy seun, Sidney, wat in 2002 by die besigheid aangesluit het, sal nou voortgaan met die onderneming en só sy pa se nalatenskap in die gemeenskap bewaar.
Hy word oorleef deur sy vrou, Elizabeth, sy drie kinders, Yolande, Sidney en Westley, stiefkinders Louis en Mariëtte, en sy sewe kleinkinders, Seth, Riley, Kasey, Emily, Leia, Miley en Emma.
Gedenkdiens
'n Gedenkdiens word komende Saterdag, 21 November, om 12:00 by die Tramonto-landgoed buite George gehou. Almal is welkom om dit by te woon. Bevestig asseblief jul teenwoordigheid by Lisa Haddad te 084 382 1957 of debtors@shaddad.co.za
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'