GEORGE NUUS EN VIDEO - Anders as normale honde loop Stevie permanent met sy neus op die grond. Dis om te verhoed dat hy nie in iets vasloop nie. Want sien, Stevie is blind. Vir lank het hy op dié manier in Thembalethu oorleef voordat die Tuinroete DBV se bestuurder, Salomé Bruyns, sy oë geword het.
DBV-inspekteur, Andrea Auerbach, het vir Stevie kort voor toemaaktyd op Vrydag 1 November, in Thembalethu gevind.
"Hy is sonder oë gebore. Daar is geen oogballe nie. Ek het dadelik verlief geraak toe sy [Auerbach] hom hier aanbring," vertel Bruyns.
"Ek kon dit nie oor my hart kry om hom daardie aand in 'n hok te los nie, die arme ding was reeds so verbouereerd en bang. Ek het hom vir die naweek huis toe geneem en dis waar hy nou gaan bly.
"Ons het nie vir Stevie aangeneem nie, hy het ons aangeneem," sê sy.
Stevie is net soos enige ander klein hondjie. Hy kou skoene, veters, tafelpote en soms, ja soms, sy eie speelgoed.
Kyk 'n video hieronder
'n Doodnormale hondjie
Volgens Bruyns is Stevie 'n doodnormale babahondjie. "Hy kan net nie sien nie, maar sy ander sintuie maak beslis daarvoor op. "As ek nie van beter geweet het nie, het ek gedink hy kan sien. Hy speel, grawe, blaf, hardloop, byt, kou aan alles, terroriseer ons ander honde en doen als wat ander babahondjies maar doen," sê sy. "Hy loop al agter my aan asof hy presies kan sien waar ek is. Dis ongelooflik."
Jy gaan baie ver soek vir 'n hond met meer geluk as Stevie.
Spanwerk
Om 'n blinde hond groot te maak is egter nie speletjies nie. "Dit was 'n hengse aanpassing vir ons hele gesin," vertel Bruyns. "Jy moet die heeltyd kyk waar hy is en waar jy trap. Ons moet hom leer om te weet wanneer dit aand is en wanneer dit dag is anders gaan ons nooit slaap nie. In hierdie stadium maak ek en my man beurte om by Stevie in die sitkamer te slaap. Dis 'n spanpoging dié.
"My man en seun help baie en ons almal het ons verantwoordelikhede rondom Stevie. Deure moet toe bly en ons moes die swembad laat oortrek met 'n veiligheidsnet."
Stevie spandeer voorlopig sy dae saam met Bruyns in haar kantoor by die DBV. Foto's: Kristy Kolberg
Bruyns neem elke dag vir Stevie na haar kantoor toe, en hy is nie vir 'n oomblik alleen nie. Maar die plan is om hom vir lesse te neem sodra hy gereed is.
"Ek wil hê sy lewe moet so normaal as moontlik wees. Dit wys jou net. Geen hond is nie aanneembaar nie. Jy moet net die regte mens vind vir die hond."
Stevie het ook sy eie Facebook-blad (Stevie my wonder dog) waar Bruyns elke dag foto's van Stevie en sy kaskenades plaas. Lesers is welkom om die blad te besoek.
Garden Route SPCA manager, Salomé Bruyns, is truly leading by example. She recently adopted a blind puppy, named Stevie, that was found in Thembalethu by SPCA inspector Andrea Auerbach. "He was born without eyes. There are no eyeballs in the sockets. I fell in love immediately when she [Auerbach] brought him here. We didn't adopt Stevie, he adopted us," says Bruyns. To follow Stevie's adventures, readers are welcome to like his Facebook page, Stevie my wonder dog.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'