GEORGE NUUS - Ofskoon die skoolvakansie nog nie iets van die verlede is nie, glimlag sakeondernemings en mense in die gasvryheidsbedryf reeds breed.
Eerste aanduidings is dat sakeondernemings en die gasvryheidsbedryf baie goed gedoen het, in sommige gevalle beter as laas jaar. 'n Finale prentjie behoort na aanstaande week verkry te word, want skole heropen dan eers. Teen vroeg vandeesweek wou dit voorkom of vakansiegangers nog die Tuinroete geniet en vir oulaas ontspan voor hulle terugkeer huis toe.
Ingrid Cronjé, uitvoerende hoof van die George-sakekamer, sê finale syfers is nog nie bekend nie. Dit wil egter voorkom of daar in die huidige vakansieseisoen meer besoekers was in George en die Tuinroete.
Die verkeersvolume op paaie en die feit dat parkeergeriewe by winkelsentrums voortdurend vol was, bevestig dit. Wanneer meer akkurate inligting bekend is, sal dit beskikbaar gestel word.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap sê in die algemeen het die gasvryheidsbedryf bo-normale omset gehad.
Hy praat van eerstehandse ondervinding as dit by restaurante kom, want by sy restaurant, Upstairs at Harrys, was omset bo die gemiddelde.
Cilliers is bewus van ondernemings waar die omset 20% meer was. Dit lyk of vakansiegangers wat tradisioneel die Garden Route Mall besoek, ook die George stadskern besoek het. Die swak weer wat by tye voorgekom het, het restaurante bevoordeel.
Die langer skoolvakansie het ook 'n impak gehad, want mense het langer gebly. Sandra Cook, van die Outeniqua Tourism Association, sê dit was beslis besiger as die vorige seisoen.
Daar was 'n groot aanvraag vir verblyf. Die besige tyd was tussen Kersfees en Nuwejaar. Besoekers was van regoor Suid-Afrika en meestal van Gauteng. Daar was ook buitelandse besoekers. Hein Botha, bestuurder van Kloppers in George, sê dit was beslis besiger. "Daar was meer voete in die winkel."
Daar was baie plaaslike mense en ook besoekers en die streeksprofiel was ook meer. Aflewerings is so ver as Beaufort-Wes en Stilbaai gedoen. 'n Verteenwoordiger van die Redberry Farm sê hulle was besiger as verlede jaar.
"Op een spesifieke dag was daar 'n rekordgetal mense wat aarbeie wou pluk en meer as 'n duisend mense het opgedaag."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'