GEORGE NUUS - Voormalige Good-raadslid Richard Hector is vir oulaas in die George-raad bespreek tydens 'n algemene raadsvergadering verlede week. Ofskoon Hector tans besig is om in die howe vir sy posisie te veg, beskou George-munisipaliteit hom as 'n voormalige raadslid.
Ook DA-raadslid Marlene Barnardt en PBI-raadslid Virgill Gericke se sake is bespreek. Al die sake het 'n positiewe uitkoms vir die drie dorpsleiers gehad.
Op die rooi tapyt
Hector is berug vir al die tugsake waarvan hy tydens sy termyn in die raad aangekla is. Die saak wat verlede Donderdag 25 Mei ter sprake was, hou verband met sy beweerde wangedrag tydens 'n openbare vergadering in die Wilderness Hotel in Oktober 2022, waar die geïntegreerde ontwikkelingsplan aan die gemeenskap van Wilderness voorgelê is vir bespreking.
Luidens 'n ondersoekverslag van McIntosh Attorneys is daar nie voldoende bewyse om tugstappe teen raadslid Richard Hector te neem nie. "Die raad het ook kennis geneem van die feit dat Hector bedank het," lees die aanbeveling in die raad se agenda.
By dieselfde geleentheid het Hector 'n klag teen die DA-raadslid Marlene Barnardt aanhangig gemaak. Hierdie saak is ook in die raad bespreek. "Ons is deur raadslid Barnardt gevra om die vergadering te verlaat, omdat ons nie betrokke is in die wyk nie," het Hector gesê.
Barnardt se ondersoek is deur Raubenheimer Prokureurs behartig, wat bevind het dat haar gedrag in die geheel nie die gedragskode vir raadslede oortree het nie.
Richard Hector lees sy eed tydens die inhuldigingsgeleentheid vir George-raadslede in November 2020.
Ander sake
Net tyd sal leer wat van die ander tugsake teen hom geword het, het Hector gesê. "Daar is nog 'n saak waar ek deur die burgemeester aangekla is oor iets wat ek in die raad gesê het, en 'n klag waar hulle beweer ek het foto's van notas tydens 'n tugverhoor geneem. Ek vermoed die sake is op ys, of is dalk in my afwesigheid afgehandel. Hulle beskou my in ieder geval nie meer as 'n raadslid nie."
Vir al die sake teen hom - hy het so sewe getel - is Hector glo onskuldig bevind op twee. Dit het gehandel oor 'n beweerde agterstallige munisipale rekening en die feit dat hy versuim het om sy belange by Go George te verklaar.
Hector is skuldig bevind op twee ander sake: sy optrede teenoor 'n senior bestuurder en 'n opmerking in die raad teenoor die munisipale bestuurder. Vir die twee sake moes Hector 'n maand en 'n half se salaris opdok.
Op goeie voet
'n Klag teen PBI-raadslid Virgill Gericke is ook in die raad bespreek, waarvan die bevinding was dat geen verdere sanksies teen Gericke geneem sal word nie.
ACDP-raadslid Johan du Toit het destyds die klag gelê nadat Gericke blykbaar neerhalende opmerkings teenoor Du Toit in 'n raadsvergadering gemaak het.
Gericke het skriftelik om verskoning gevra en Du Toit het die klag terug getrek.
DA-hoofsweep Marlene Barnardt
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’